Villiersdorp Kelder stel ‘blerrie goeie’ wyn bekend

Date posted:
January 17, 2011

Villiersdorp Kelder, omring deur die pragtige Groenlandberg-, Hottentots Holland-, Franschhoek- en Baviaansbergreekse, het onlangs sy Dam Good-wynreeks bekend gestel. Die reeks bestaan uit die Dam Good White, die Dam Good Rosé en die Dam Good Red.

Die Dam Good-reeks wyne bied uitstekende waarde vir geld – “dam good wines at dam good prices” – in lyn met Villiersdorp Kelder se jongste strategie om die gehalte van hul grootmaatwyn sowel as hul gebottelde wyn te verbeter deur gebruik te maak van die gunstige toestande vir druiwe op die lede se plase.

Die naam van die Dam Good-reeks gee erkenning aan die bron van die wyne, die wingerde rondom  die nabygeleë Theewaterskloofdam, by verre die grootste dam in die Wes-Kaap. Die Theewaterskloofarea, waar die meeste van die lede van Villiersdorp Kelder boer, is nou ook ’n Wyn van Oorsprong-wyk  en val binne die Overberg-distrik.

Die Dam Good-reeks bestaan uit:

Dam Good White 2010 – chenin blanc (97%) en sauvignon blanc (3%)

Ryp koejawel en tropiese vrugte bied vars geure in die neus. Die tropiese vrugte word deurgedra na die mond waar dit aansluit by geure van groen vye en kiwivrug. Jongste Platter-wyngids het dit ’n J gegee wat beteken dis besonders drinkbaar en goed geprys. Prys R26 – R29.

Dam Good Rosé 2010 – 100% merlot

Pragtige kersiebloeiselkleur met ’n oorvloed soet aarbei- en roosblaargeure. Spookasem in die mond met titsels framboos. Met 62g/? ressuiker word hierdie wyn as natuurlik soet gaklassifiseer. Drie sterre in die jongste Platter-wyngids, asook “vol karakter, aanloklik”. Prys R26 – R29.

Dam Good Red 2009–shiraz (60%) en cabernet sauvignon (40%)

Uitlokkende swartbessiegeure met sweempies speserye en rokerigheid wat tot ’n goed gestruktureerde mediumvolgevoel in die mond lei. Lig gehout. Ook ’n J in die 2011- Platter-wyngids gekry wat op “besonders drinkbaar” en “goed geprys” dui. Prys R30 – R33.

“Hierdie koel, nuwe reeks met sy etikette diagonaal gesny, is goed. Om die waarheid te sê, dis ‘dam good’.” Dis nou volgens die Platter’s South African Wines 2011.

Hulle kom met skroefdoppe en ’n vars, skoon, kontemporêre etiket – met sweempies silwer en verskeie elegante metaalhoogtepunte vir die onderskeie wyne in die reeks. Die vloeiende, golwende lyne op die etiket dui op die beweging van die water in die Theewaterskloofdam.

Die Dam Good-reeks wyne is tans landwyd beskikbaar by onafhanklike drankhandelaars en by restaurante en Aroma-drankwinkels in die Wes-Kaap.

Die Dam Good-wines kan ook by Kelkiewyn (wynproesentrum, restaurant en plaasstal) in Villiersdorp geproe en gekoop word, regoor Villiersdorp Kelder. Kelkiewyn, wat in Villiersdorp se hoofstraat en langs die oewer van die Elandsrivier geleë is, huisves ook ’n trekkermuseum waar 40 unieke en pragtig gerestoureerde trekkers ten toon gestel word.

Villiersdorp Kelder is in die rustige dorpie Villiersdorp in die prentjiemooi Theewaterskloofvallei geleë. Villiersdorp word dikwels die Pêrel van die Overberg genoem vanweë die berge en riviervallei waarin dit geleë is.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram