Viljoensdrift vier sy beste jaar!

Date posted:
November 22, 2010

Viljoensdrift, geleë langs die Breërivier tussen Robertson en Bonnievale, spog vanjaar – ‘n rapsie meer as ‘n dekade nadat die vyfde generasie Viljoens besluit het om hul eie wyn te maak – met ‘n hele rits toekennings op hul kerfstok.   Broers Fred en Manie Viljoen pluk vanjaar die vrugte van toewyding tot en passie vir die kuns van wynmaak nadat hulle in 1998 besluit het om weer na 30 jaar die kelderdeur oop te maak. 

 

Prestasies by vanjaar se Veritas- en die Michelangelo-wyntoekennings, die insluiting van een van hul wyne op die SAA se aanboordwynlys, asook die tydskrif WINE se hoë lof vir hul droë wit versnit, Driftwood, maak hierdie hul suksesvolste jaar ooit.  

 

Onder Viljoensdrift se River Grandeur-premie-etiket vind jy twee wyne, naamlik Pinotage en Shiraz, wat reeds sedert 2002 die aandag van beoordelaars trek by gesaghebbende kompetisies soos die ABSA Top 10, Veritas, Michelangelo, Swiss Air en British Airways.

 

Hierdie jaar het die River Grandeur Pinotage 2009 roem na die Robertson-wynstreek gebring deur die enigste Veritas-dubbelgoudwenner uit hierdie streek te word. Die 2008- River Grandeur Shiraz met sy witpeper- en kruiegeure spog vanjaar op sý beurt met ‘n goue Veritas-medalje. Hierdie twee uitsonderlike wyne is vanjaar ook by Michelangelo met goud beloon.

 

Die nuwe Driftwood droë witwyn het in die jongste WINE dié gesaghebbende wyntydskrif se proeërs beïndruk – soveel so dat dit met ‘n 4,5 ster-gradering spog. Hierdie droë wit versnit, bestaande uit sauvignon blanc en semillon, kom teen ‘n sakpasprys van slegs R19.50 per bottel en bied uitmuntende waarde vir geld. WINE se paneel ervare proeërs het 131 wit versnitwyne “blind” geproe en in terme van bekostigbare kwaliteit beoordeel, en Driftwood het heelbo uitgekom. 

 

Viljoensdrift se 2010- River Grandeur Sauvignon Blanc is onlangs deur SAA vir aanstaande jaar se premieklas-aanboordwynlys gekies. 

 

Jongwyne van die 2010-oesjaar hou reeds groot belofte in. Viljoensdrift se rooi versnit is vanjaar by die SA Jongwynkampioenskap as SA Kampioen aangewys nadat hierdie eer hulle ook op eie bodem by die Robertsonse Jongwynskou te beurt geval het.

 

Vir meer inligting of besprekings, kontak Viljoensdrift by tel 023 615 1901, epos wines@viljoensdrift.co.za of besoek www.viljoensdrift.co.za.

 

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram