Vier nuwe fynproewerwyne gedenk Nederburg se verlede

Date posted:
August 8, 2012

Nederburg het vier nuwe fynproewerwyne geskep wat nét in spesialis-kleinhandelwinkels en die beste restaurante verkoop sal word. Hulle staan gesamentlik as die Heritage Anthology bekend, en het individuele name te ere van mense wat ’n groot rol gespeel het om hierdie wynlandgoed se reputasie uit te bou.

 

Die 2009- Motorcycle Marvel gedenk die legendariese wynmaker Günter Brözel wat van 1956 tot 1989 aan Nederburg verbonde was. Dit is ’n versnit van grenache, carignan en shiraz in die Rhône-styl.

 

Die druiwe van eersgenoemde twee kom van ou bosstokke in die Paarl, en die shiraz kom van ’n bekroonde blok in Philadelphia. Die wyn is met lang dopkontak in oop vate gegis om maksimum aan kleur en geur te onttrek, het Razvan Macici, die huidige keldermeester, gesê. Geen nuwe hout is vir die veroudering daarvan gebruik nie. “Ons het ’n kombinasie van Franse en Roemeense tweede-, derde- en vierdevulvate van 300 en 500 liter gebruik om ’n delikate eikehoutsmaak by te voeg.”

 

Die wyn is vir twee jaar in dié vate verouder. Hy sê die gevolg is ’n “ryk en intense smaakontploffing met prominente bessie- en soetvrugkarakters, ryp en gladde tannien, en ’n uitmuntende integrasie van vrug en hout.”

 

Die 2009- Brew Master is ’n versnit in die Bordeaux-styl ter herdenking aan Johann Graue, wat wynmakery in Suid-Afrika op sy kop gekeer het toe hy Nederburg in 1937 gekoop het. Sy werk om die beste presterende wingerdstokke  vir vermeerdering te isoleer en die gebruik van koue gisting staan veral uit.

 

Cabernet sauvignon oorheers, maar daar is ook merlot, petit verdot en cabernet Franc in die versnit waarvan die komponente almal afsonderlik tot wyn gemaak is. Die druiwe is in ’n kombinasie van oop gistenke en tenke van vlekvrye staal op die doppe gegis. Die wyn is vir 24 maande in nuwe en ouer 300 liter-vate van Franse eikehout verouder voordat dit gebotteleer is.

 

Macici sê die styl van die wyn is klassiek, met “geurige, komplekse aromas en smake”. Albei rooiwyne is gemaak om vir tot 15 jaar te verouder, maar toon ’n uitstekende integrasie van vrug en hout, en kan dus nou reeds gedrink word.

 

Die Young Airhawk 2011 (links) is ’n houtverouderde sauvignon blanc wat aan Johann Graue se seun, Arnold, hulde bring. Nes sy pa het hy talle tegniese vernuwings op Nederburg ingevoer. Hy het sy pa se bekroonde reputasie voortgesit, maar het op 29 jaar in ’n ligte vliegtuig verongeluk.

 

Die druiwe vir dié wyn kom van wingerde naby Gansbaai, Darling en Durbanville wat elk verskillende fasette van hierdie kultivar se karakter na vore bring. Die druiwe is ontstingel en die sap is in ’n kombinasie van tweede-, derde- en vierdevulvate van 228 en 300 liter gegis. Die gistemperatuur in elke vat is nagegaan en die wyn is 10 maande lank op die moer gelaat en gereeld geroer om romerigheid en kompleksiteit te verleen.

 

“Lae groenvye, aspersie en mineraalgeure in die neus en mond pas baie goed saam by die hout. Dis fris, vars en opkikkerend, met ’n romerige tekstuur. Dit kan vyf tot sewe jaar lank verouder,” het Macici gesê.

 

Die 2011- Anchorman Chenin Blanc kry sy naam van Nederburg se stigter, Philippus Wolvaart, wat die plaas in 1791 bekom en onder meer chenin blanc-druiwe aangeplant het. Macici beskryf dit as ’n “baie interessante, uitdrukkingsvolle wyn – ’n versnit van komponente wat baie verskillend tot wyn gemaak is, en wat ’n verfrissende varsheid met kompleksiteit kombineer.” Die druiwe kom van ou droëland-bosstokke in Darling, Durbanville en die Paarl wat ? lae opbrengs lewer.

 

“Een deel is in tweede- en derdevulvate van 300 en 500 liter gegis. ’n Tweede deel is in vlekvrye staaltenks gegis, ’n derde deel in baie ou, groot vate, en die res met ’n gistegniek wat gewoonlik vir rooiwyn gebruik word. Ons noem dit koolsuur-deurweking, waar heel trosse spontaan gis sonder dat hulle gepars of stukkend gedruk word. Sulke wyne is gewoonlik lig en vrugtig.”

 

Macici het dié tegniek gekies omdat dit die wyn varser laat smaak. “Hierdie Chenin Blanc herinner aan ryp vrugte, veral appelkose en lemoene, met tikkies blomme, en sweempies rosyntjies en speserye, met ’n lewenskragtige mineraal-ruggraat.” Hy glo dat dié wyn die potensiaal het om te verouder vir 10 jaar. 

 

Die kleinhandelprys van die witwyne sal waarskynlik R97 wees, en dié van die rooiwyne sowat R105. 

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram