Vier Lomond-wyne, drie sauvignon blancs en 'n syrah, is ingesluit in die Top 100 SA Wines vir 2012. Hulle is die Pincushion Sauvignon Blanc van sowel die 2010- as die 2011-oesjare, die Sugarbush Sauvignon Blanc van 2012 en die Conebush Syrah van 2008. Al vier is enkelwingerd-wyne.
Lize-Marie Gradwell, Cape Legends se bemarkingsbestuurder, sê feitlik elke oesjaar van die twee sauvignon blancs het plaaslik en oorsee onderskeidings ingepalm sedert hulle in 2005 en 2006 op die mark gekom het. In die jongste Platter South Africa Wine Guide het hulle onderskeidelik vier en vier en 'n half sterre ontvang.
Hoewel hul smaakprofiele beduidend van mekaar verskil, word die wyne gemaak van druiwe wat in aangrensende wingerde op die Lomond-plaas anderkant Gansbaai groei. Die rede vir hierdie verskille is die unieke geologiese formasies op die plaas wat tot 'n wye verskeidenheid van uiteenlopende grondtipes aanleiding gegee het.
Sy sê rooi en wit kultivars vaar ewe goed in die koel klimaat van die plaas. “Soos die Sugarbush, het die 2008 Conebush Syrah wat in 2010 dubbelgoud by Veritas gewen het, ook vier en 'n half sterre in Platter behaal. Dit is 'n pragtig geïntegreerde, elegante wyn wat na my oordeel die hoogste lof verdien.”
Klein hoeveelhede van al vier hierdie wyne is nog in die handel beskikbaar.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast