Vier 340 jaar van brandewyn in SA met Van Ryn’s se allerbeste 20-jaaroud

Date posted:
June 14, 2012

Brandewyn word reeds 340 jaar lank in Suid-Afrika gemaak, en om dié mylpaal te vier, bied die Van Ryn's-distilleerdery naby Stellenbosch ’n sopie van sy heel beste 20-jaaroud met ’n sny smullekker vrugtekoek teen R50 per persoon.

 

Dié veel bekroonde potketelbrandewyn kan hom met reg die beste brandewyn ter wêreld noem want dié eer het hom by die International Wine & Spirit Competition en die International Spirits Challenge te beurt geval. Hy kan ook met talle Veritas-toekennings spog. Die brandewyn is fluweelsag met gulhartige geure van rosyntjies, pruimedante, speserye en okkerneute, en is die volmaakte pasmaat vir heerlike klam vrugtekoek propvol droëvrugte.

 

Suid-Afrika se heel eerste brandewyn is twintig jaar ná die vestiging in 1652 van die VOC se nedersetting aan die Kaap onder Jan van Riebeeck gemaak. Dit is aangeteken dat ’n kok aan boord van die skip De Pijl, wat in Tafelbaai voor anker gelê het, in 1672 die eerste brandewyn van Kaapse druiwe gemaak het.

 

Niemand ken meer sy naam nie, maar hy het die skepping van die brandewynbedryf in Suid-Afrika aan die gang gesit. Vandag kry die land erkenning van fynproewers oral ter wêreld vir die ongeëwenaarde uitnemendheid van sy spesialisbrandewyne.

 

Die kleinhandelprys van die Van Ryn’s Collectors’ Reserve is meer as R1 000 per bottel van 750 ml.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram