Verkwik jou smaakkliere hierdie somer met die speelse 2010- Flat Roof Manor Pinot Grigio wat nou reeds verkrygbaar is. Aanloklike gedroogde perske- en appelkoosgeure met so ‘n sweempie lietsjie maak hierdie wyn heerlik op ‘n warm somersdag.
Die Flat Roof Manor-reeks, wat op die Uitkyk-landgoed buite Stellenbosch gemaak word, is geskep met gehalte en prys in gedagte en bied alledaagse wyne met ‘n ontspanne benadering tot wyngenot. Hierdie wynplaas van 600 hektaar met sy ryk geskiedenis was eens op ‘n tyd ‘n eksperimentele plaas vir Mediterreense kultivars en sy reeks van vyf wyne sluit vandag drie van hierdie kultivars in.
Die wynmaker, Estelle Lourens, sê dit is geen verrassing nie dat hierdie Italiaanse kultivar die aandag van plaaslike wynliefhebbers aangegryp het.
“Pinot grigio het die nuwe chardonnay geword en ‘n modieuse toevoeging tot die beskikbare witwyne gebring. Die wyn is nie aanmatigend in styl en smaak nie, en is besonder gewild as ‘n skemerkelkie en drankie voor aandete.”
Sy sê hierdie ligte wyn kombineer uitsonderlik goed met Mediterreense styl hoenderdisse, slaaie en koue vleis.
Die Flat Roof Manor-etiket sluit ‘n kat op ‘n plat dak in. Volgens legende het hierdie kat op Uitkyk aangebly lank nadat die oorspronklike eienaars weg is en jaar na jaar die son geniet.
Die Flat Roof Manor Pinot Grigio 2010 sal sowat R35 kos en is landwyd in vooraanstaande supermarkte en drankwinkels beskikbaar.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast