Veritas-glorie vir KWV, Nederburg en ander

Date posted:
October 8, 2012

Twee bekende wynkelders met ‘n gesamentlike wynmaak-geskiedenis van sowat 170 jaar het die kollig gedeel op vanjaar se Veritas-aeremonie wat Saterdagaand in Kaapstad plaasgevind het. KWV, verlede jaar se Veritas-kampioen, was weer eens aan die voorpunt in terme van die meeste dubbelgoue medaljes (5) vir hul wyne, sowel as twee dubbelgoues van uitmuntendheid vir hul brandewyninskrywings. Nederburg was op hul hakke met 4 dubbelgoue medaljes. 

 

Terwyl KWV se dubbelgoud-oes met 7 goue medaljes aangevul is, het Nederburg daarin geslaag om 12 goue medaljes te versamel. 

 

Die ander top presterende wynkelders is Jordan (3 dubbelgoud), Simonsig (2 dubbelgoud, 7 goud), Boplaas (2 dubbelgoud, 3 goud), Cederberg Private Cellar (2 dubbelgoud, 2 goud), Windmeul (2 dubbelgoud, 2 goud)  en Guardian Peak (2 dubbelgoud, 1 goud).

 

Die kategorie vir brandewyn het 33 standaard, oesjaar- en potketel-inskrywings gelok. KWV en Van Ryn’s neem vanjaar die leiding met twee dubbelgoue medaljes elk, gevolg deur Oude Meester, Klipdrift Gold en Flight of the Fish Eagle met een elk. 

 

Altesaam 1 744 wyne en brandewyne het vanjaar hul visier op Veritas-medaljes gehad en 58 (3.3%) uitmuntende produkte het dubbelgoud gewen, terwyl 147 (8.4%) goud verdien het, 499 (28.6%) silwer en 677 (38.8%) brons – dus ‘n totaal van 1 381 medaljes.

 

2012 SE WENWYNE

 

Agt Suid-Afrikaanse wynkelders het vanjaar die voortou geneem in terme van dubbelgoue en goue medaljes en byna die helfde van die totale aantal dubbelgoue toekennings sal op hulle bottels pryk. 

 

Vyf van KWV se voorste wyne is met dubbelgoud beloon, naamlik The Mentors Pinotage 2010, The Mentor Shiraz 2010, 1933 White Jerepigo Limited Edition, 1969 Hanepoot Jerepigo en ‘n nie-oesjaar Classic Collection Cape Tawny.

 

Nederburg het beïndruk met vier dubbelgoue medaljes vir hul Nederburg Winemaster’s Reserve NLH 2010, ‘n Private Bin Edelkeur Chenin Blanc NLH 2008, ‘n Private Bin Edelkeur Chenin Blanc 2004 en die Private Bin R181 Merlot 2007.

 

Byskrif: Agter vlnr staan Philip van Staden (Guardian Peak), David Nieuwoudt (Cederberg), Francois van Niekerk (Windmeul), Charles Hopkins (SANWSA-voorsitter), Wilhelm Pienaar (Nederburg) en Brendan Butler (Jordan). Voor vlnr sit Richard Rowe (KWV), Margaux Nel (Boplaas) en Francois Malan (Simonsig).

 

Jordan van Stellenbosch spog met ‘n trio van dubbelgoue medaljes vir hul Nine Yards Chardonnay 2011, die Jordan Chardonnay 2010 en die Cobblers Hill 2008.

 

Boplaas het twee dubbelgoue medaljes vir hul Cape Vintage Reserve 2009 en 2010 ontvang.

 

Twee dubbelgoue medaljes gaan aan Cederberg Private Cellar, SA se hoogste kelder bo seespieël, vir hul Five Generations Cabernet Sauvignon 2010 en die Shiraz 2010.

 

Die Stellenbosch-gebaseerde Guardian Peak is met ‘n dubbelgoue duo vereer vir hul Guardian Peak Lapa Cabernet Sauvignon 2010 en die Guardian Peak SMG 2010.

 

Simonsig, waar generasies van Malans reeds sedert 1688 wynmaak, het ook twee dubbelgoue medaljes gewen vir die Redhill Pinotage 2009 en die Sunbird Sauvignon Blanc 2012.

 

Windmeul Cellar, geleë in die hartjie van die Paarlse wynlande, is toenemend bekend as ‘n dubbelgoud-wenner vir pinotage. Hierdie jaar is geen uitsondering nie en Windmeul het dubbelgoud vir hul Reserve Pinotage 2011 ingepalm, sowel as vir hul Sauvignon Blanc 2012.

 

ONOORTREFLIKE BRANDEWYNE

 

Dubbelgoud is toegeken aan KWV se 15 en 20 jaar oue brandewyne, sowel as  vir Van Ryn’s se 10 en 15 jaar oue brandewyne. Ander top presteerders sluit in Flight of the Fish Eagle, Klipdrift Gold en Oude Meester 12 Year Old Reserve. 

 

Byskrif: Die top presterende brandewynmakers, Marlene Bester (Van Ryn) en Pieter de Bod (KWV). 

 

Wat die onderskeie kultivars betref, is sauvignon blanc bo-aan vanjaar se lys van inskrywings met 211, gevolg deur shiraz (181) en cabernet sauvignon (146). 

 

Sauvignon blanc (geen hout) het die leiding geneem in terme van dubbelgoue medaljes met 8 toekennings, gevolg deur potketelbrandewyn (7), cabernet sauvignon (5), shiraz (5), chardonnay (gehout) (4), rooi versnitte (4), pinotage (4), merlot (3), port (3), chenin blanc (geen hout) (2), chenin blanc (gehout) (2), edellaatoes (geen hout) (2), MCC (2), sauvignon blanc (gehout) (1), strooiwyn (1) en rooi muskadel (1). In die Museumklas het dessertwyn (2), witwyn (1) en edellaatoes (1) almal dubbelgoue medaljes gewen.

 

Die meeste goue medaljes is deur rooi versnitte ingepalm (16), gevolg deur cabernet sauvignon (12), chardonnay (gehout) (10), merlot (10), chenin blanc (geen hout) (9), Méthode Cap Classique (8), sauvignon blanc (geen hout) (8), potketelbrandewyn (7), chenin blanc (gehout) (6), pinotage (5), shiraz (5), rooi muskadel (5), chardonnay (geen hout) (3), edellaatoes (geen hout) (3), dessertwyn (3), port (3), wit versnitte (geen hout) (2), wit versnitte (gehout) (2), riesling (geen hout) (2), natuurlik soet (2), standaard brandewyn (2), sémillon (geen hout) (1), sémillon (gehout) (1), viognier (gehout) (1), edellaatoes (gehout) (1), spesiale laatoes (geen hout) (1), rosé (1), cabernet franc (1), pinot noir (1), ander rooi kultivars (1), wit muskadel (1) en sjerrie (1). In die Museumklas is 13 goue medaljes toegeken aan witwyn (4), dessertwyn (4), rooiwyn (2), edellaatoeswyn (2) en port (1).     

 

Besoek www.veritas.co.za vir die volledige uitslate. Die webwerf het ook ‘n soekfasilitiet wat spesiaal ontwerp is om Veritas-medaljewenners sedert die begin van die kompetisie in 1991 aan te dui.             

 

Volg Veritas by http://www.facebook.com/pages/Veritas-Awards/257143924401201 en Twitter by @veritasawards.

 

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram