Verantwoordelik kuier is die nuwe ‘cool’

Date posted:
November 2, 2011

Noudat Jan Tuisbly se karretjie die nuwe “uitgaan” is, herleef die huispartytjie weer sy glorie van die sestigerjare. Die opbloei van die “by-die-huis-kuier”-neiging val saam met ‘n groterwordende bewustheid van die gevare van drink en bestuur en ‘n groeiende verantwoordelikheidsin onder wynliefhebbers.

 

En jy hoef lankal nie meer ‘n bottel ingevoerde wyn, konjak of ander ingevoerde snob-drinkgoed uit die drankkabinet te haal om jou gaste te beïndruk nie want ons land se groot verskeidenheid wyne en wynstyle bied werklik iets vir elke smaak en elke geleentheid, sowel as vir elke sak.

 

As ’n mens eers die reis van al die verskillende wyne en wynstyle aangepak het en avontuurlustig begin eksperimenteer met kos en wyn, kry ’n tuiskuier ‘n heel nuwe dimensie van pret en plesier.

 

Dis goeie tydsberekening dat die huispartytjie weer gewild raak saam met die tendens om meer verantwoordelik eerder as net meer te drink en om sodoende wyn ook meer te waardeer en geniet, reken Planeet Wyn.

 

Deesdae is die goeie gasheer of gasvrou ook die een wat die belange van gaste eerste stel en sorg dat hulle veilig tuiskom na die lekker kuier – en ook nie die volgende dag die berou en kopseer het van te veel “loopdoppe” nie. Neem dus die uitgangspunt dat dit gaaf is om om te gee!

 

Vir ’n heerlike samesyn kan jy jou vriende bederf met ’n paar van Suid- Afrika se beste wyne, ports, muskadels, sjerries of potketelbrandewyne. Gee jou gaste die keuse om wyne soos port, sjerrie en brandewyn net so te geniet met ’n paar blokkies ys of heelwat gebreekte ys daarby of, in die geval van brandewyn, saam met ’n lekker menger soos vars uitgedrukte lemoensap of gemmerlim. Bedien dit saam met vingerhappies, gevolg deur ’n keuse van brandewyngegeurde nageregte – van pannekoek en vrugtekoek tot brandewynroomys en enige vorm van sjokolade (dit is ’n fantastiese metgesel vir brandewyn).

 

Wees ’n goeie, verantwoordelike gasheer of –vrou

 

Dit is jou partytjie en jou vriende – sorg vir jouself én vir hulle. Moedig jou gaste aan om tussen die alkoholiese drankies water te drink – sorg dat daar genoeg bekers met water is wat liggies met verfrissende ment of suurlemoen gegeur is. Verskaf gerus ook nie-alkoholiese verversings soos kamma-mengeldrankies, interessante alkoholvrye pons en vars vrugtesappe.

 

Skink self jou gaste se drankies, of kry iemand verantwoordelik om kroegdiens te doen – gaste is dikwels geneig om dubbels te skink eerder as enkelsopies. Onthou, hoe later, hoe kwater!

 

’n Goeie algemene reël is ’n 1:1-verhouding - drink minstens een glas water vir elke sopie of glas wyn, port, sjerrie of brandewyn wat jy geniet.

 

Wees oordadig met die kos eerder as met die drank. Vermy peuselhappies wat te sout is; dit maak gaste dors en kan hul meer laat drink.

 

Bied as die “loopdop” eerder ’n koppie goeie koffie aan pleks van nog ’n drankie.

Hou die name en nommers van ’n paar betroubare taxi-maatskappye byderhand vir gaste wat nie voorsiening gemaak het vir ’n nugter persoon wat kan huis toe bestuur nie.

Hou al die gaste se motorsleutels op ’n spesiale plek met elkeen se naam daarby. As jy – of ’n ander verantwoordelike persoon wat jy aanwys – voel ’n gas is nie nugter genoeg om self huis toe te bestuur nie, kan jy die sleutel hou en eerder ’n taxi ontbied.

 

Beplan vooruit en sorg dat daar slaapplek en kos is ingeval iemand dalk onverwags by jou moet oornag.

 

Maak vooraf seker of enige van jou vriende tans medikasie gebruik - enigiets soos antibiotika, antihistamien of enige ander medikasie.

 

Onthou, soos met alles in die lewe, is kwaliteit belangriker as kwantiteit. Drink eerder minder, maar beter. En probeer ‘n stewige maal inpas voordat jy begin kuier.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram