Veelsydigheid kenmerk Neethlingshof se 2010- Gewürztraminer

Date posted:
November 19, 2010

“Soet in die neus, maar nie in die mond nie,” sê De Wet Viljoen van sy 2010- Neethlingshof Gewürztraminer, ’n aromatiese maar naasdroë wyn met geure van roosblare, Turkse lekkers en speserye wat onlangs bekend gestel is. “Sy fris suur bied ’n goeie teenvoeter vir die blomkarakter en maak daarvan ’n uitstekende wyn saam met kos, veral lig gespeseryde Asiatiese disse.”

 

Die suur verhoog nie net die wyn se kompleksiteit nie, maar gee dit die vermoë om vir nog etlike jare te verouder. “Dis ’n heerlike, verfrissende wyn om nou te drink, met ’n vars en pikante nasmaak, maar met verloop van tyd sal dit verder ontwikkel en ’n effe gekruide karakter bykry.”

 

Die groeiende belangstelling in aromatiese kultivars maak dit ’n interessante alternatief vir die hoofstroom-kultivarwyne, reken hy. “Nadat die druiwe gepluk en gepars is, het die sap vir etlike ure in kontak met die doppe gebly om die baie spesifieke eienskappe van gewürztraminer vry te laat. Wanneer jy die wyn ruik, dink jy dit gaan soeter wees as wat dit in werklikheid is want jy tel ook jasmyn-, kamferfoelie- en lietsjiegeure op. Wanneer jy dit egter proe, is die soetigheid baie minder, wat die wyn ’n interessante faset gee en dit so veelsydig met kos maak.”

 

Sowat twee-derdes van die finale samestelling van hierdie beperkte wyn, met ’n ressuiker van net oor die 8g/l om dit ’n volheid in die mond te gee, is droog gegis, terwyl die gisting van die oorblywende derde nie voltooi is nie.

 

Neethlingshof se gewürztraminer-wingerde lê teen ? suidelike hang en was 16 jaar oud toe die druiwe gepluk is. In die somermaande word die wingerde in die laatmiddag afgekoel deur seebriese wat van oor Valsbaai waai. “Ons is baie gelukkig om wingerde te hê wat so goed geleë is. Gewürztraminer benodig relatief koel toestande om sy beste na vore te bring en sy eksotiese aromas in toom te hou vir groter subtiliteit.”

 

Die wyn is by uitgesoekte winkels beskikbaar en kos sowat R45 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram