Van Ryn’s wen Welcome Award op Indaba 2009

Date posted:
May 27, 2009

Die Van Ryn’s-distilleerdery buite Stellenbosch is aangewys as ? nasionale wenner by SA Toerisme se Welcome Awards van 2009. Dit is by die Indaba se gala-seremonie, wat deur sleutelspelers in die land se toerismebedryf  bygewoon is, bekend gemaak.

 

Van Ryn’s het die kategorie vir vergaderings, uitstallings en spesiale geleenthede gewen en is geprys vir die voortreflike gehalte van sy proe-aanbiedings, sy toere, diens en luukse geriewe. Verlede jaar het die distilleerdery in dieselfde kategorie  ? vyfster-gradering van die Graderingsraad van SA Toerisme ontvang.

 

Die distilleerdery is internasionaal bekend en word algemeen as die vlagskip van die Suid-Afrikaanse bedryf aanvaar. Van Ryn’s het reeds drie keer by die International Wine & Spirit Competition in Londen die toekenning vir die wêreld se beste brandewyn verower. In 2008 het dit ook by die International Spirits Challenge die trofee vir die beste brandewyn gewen.

 

“Ons probeer om vir besoekers ? ervaring te bied wat op dieselfde vlak is as ons luukse brandewyne,” het Nichole Solomons van Van Ryn’s gesê toe sy die toekenning in ontvangs geneem het. “Ons wil hê dat mense hulself verloor in die wêreld van die handgeskepte en die uitsonderlike, waar passie en vaardigheid weerspieël word in alles wat ons doen.

 

“Ons weelderige omgewing weerspieël die luukse karakter van ons brandewyne. Ons wil uitdrukking gee aan die diepte van ervaring en kundigheid wat elkeen van ons brandewyne ten grondslag lê en om dit in elke faset van ons bedrywighede te weerspieël, van die persoon wat die verwelkomingsdrankie skink tot die gids wat die besoek aan ons aanleg lei, van die kuipers wat die Franse eikehoutvate aanmekaarsit waarin ons brandewyne verouder tot die persoon wat die aankope van brandewyn en bykomstighede vir besoekers verpak voor hulle vertrek.”

 

Van Ryn’s is Suid-Afrika se enigste brandewyndistilleerdery met sy eie kuipery waar ervare kuipers besoekers laat sien hoe vate van Franse eikehout aanmekaargesit word.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram