Van Ryn’s verower sesde internasionale toekenning!

Date posted:
November 16, 2010

Die Van Ryn’s-distilleerdery naby Stellenbosch het pas sy derde opeenvolgende trofee vir beste brandewyn by die International Spirits Challenge (ISC) van 2010 in Londen ontvang. Dié keer het die keuse geval op die 15 Year Old Fine Cask Reserve as die wêreld se beste brandewyn.

 

Neil Mathieson, die kompetisie se kategorievoorsitter vir konjak, armanjak en brandewyn, sê: “Dit was vanjaar ’n baie moeilike besluit om die trofee vir die beste brandewyn toe te ken want al die produkte wat ingeskryf is, was puik en het almal baie hoë punte gekry. Uiteindelik is die besluit om die trofee aan Van Ryn’s se 15 Year Old toe te ken uit erkenning vir sy uitmuntende lengte, subtiliteit en smaakdiepte.”

 

Mathieson, internasionaal gereken as ? kenner van brandewyne en ander druiwe-gebaseerde spiritualieë, is die stigter en besturende direkteur van Eaux de Vie, ’n spesialis-invoerder van spiritualieë wat in die VK gesetel is. Hy glo Suid-Afrika se brandewyne word die standaard vir verouderde brandewynprodukte van gehalte buite Frankryk se AOC-streke.

 

In 2008 en 2009 het die paneel van spiritualiekenners by die ISC Van Ryn’s se 12 Year Old Distillers Reserve as die beste brandewyn aangewys.

 

Van Ryn’s het ook reeds drie keer die trofee as Beste Brandewyn ter Wêreld van die International Wine & Spirit Competition (IWSC) huis toe gebring, en is dus reeds ses keer as die produsent van die heel beste brandewynproduk aangewys.

 

Adele Ankiewicz, Van Ryn’s se globale bemarkingsbestuurder, sê: “Dié resultate bewys die distilleerdery handhaaf ’n merkwaardig bestendige standaard en weerspieël Suid-Afrika se brandewyn-uitnemendheid. Van Ryn’s se brandewynversameling is ’n internasionale gehalteleier en stel die norm vir die beste brandewyn ter wêreld. Dit kombineer uitbundige en gul druiwesmake behendig met elegansie en finesse, en bied spiritualiefynproewers ’n opwindende smaakprofiel.”

 

Vanjaar se wenner as beste brandewyn by die ISC is by die IWSC as beste in sy klas aangewys en het daar ’n goue medalje gewen.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram