Van Ryn’s palm voorste internasionale toekennings vyf maal in

Date posted:
October 11, 2009

Ondanks taai mededinging het die Van Ryn’s-distilleerdery by Stellenbosch sy status as die beste ter wêreld behou. Hy het pas die tweede jaar ná mekaar die titel as Beste Brandewyn tydens die International Spirits Challenge (ISC) in Londen verower. Die hoogste telling is albei kere toegeken aan die Van Ryn’s 12 Year Old Distillers Reserve, dieselfde brandewyn wat ook twee maal – in 2004 en 2005 – die trofee vir Beste Brandewyn ter Wêreld tydens die International Wine & Spirit Competition (IWSC) gewen het.

 

Verlede jaar is die Van Ryn’s 20 Year Old Collectors Reserve as die IWSC se Beste Brandewyn ter Wêreld aangewys.

 

Die jongste triomf beteken dat Suid-Afrika se voorste brandewyndistilleerdery nou al vyf maal die meeste punte by ’n belangrike internasionale kompetisie gekry het. Geen ander plaaslike brandewyndistilleerdery kan daarby kers vashou nie.

 

Die Van Ryn’s 15 Year Old Fine Cask Reserve het tydens die ISC van 2009 ’n goue medalje in sy sak gesteek. Die distilleerdery kan ná vanjaar se IWSC ook met nóg drie goue medaljes spog. Dié was vir die 12 Year Old Distillers Reserve en die 20 Year Old Collectors Reserve, wat albei as die beste in hul klas aangewys is, en die Van Ryn’s 10 Year Old Vintage Brandy. Die 12 Year Old Distillers Reserve het ook tydens die Concours Mondial de Bruxelles van 2009 ’n goue medalje ingepalm.

 

 

Links: Johan Venter, brandewynmeester, besig waarmee hy so goed is.

 

Johan Venter, die brandewynmeester wat die Van Ryn’s Collection Reserve-reeks bedink het en steeds toesig hou terwyl die vier brandewyne in die beperkte reekse met die hand gemaak word, sê: “Al hoe meer produsente van spesialisbrandwyne van orals ter wêreld neem deesdae deel en daarom is die mededinging strawwer en die standaarde hoër. Dis dus al hoe moeiliker om ons eerste posisie te behou. Behalwe die werklike kundigheid met die maak van brandewyn wat ons ontwikkel het en elke jaar probeer verbeter, lê ons ook baie klem op die verkryging van die regte druiwe. Ons het sterk bande geskep met die wingerboukundiges in beheer van die wingerde waarvandaan ons druiwe kom.

 

“Ons is ook baie kieskeurig ten opsigte van die veroudering- en roosterspesifikasies van die vate van Franse eikehout waarin ons brandewyne verouder. Ons beskik dus oor druiwe en hout uit die boonste rakke en kan ons aandag by die tradisionele kuns van dubbeldistilleerdery vestig. Ons skenk natuurlik ook baie aandag aan die versnyding, waar ons veral uitblink.

 

“Ons is ook baie gelukkig omdat Suid-Afrika se wetgewing rakende die maak van brandewyn onder die strengste ter wêreld is. Dit gee ons beslis ’n voordeel.”

 

Die vier brandewyne in die reeks is by spesialiskleinhandelaars en by die Van Ryn’s-distilleerdery op die walle van die Eersterivier te kry.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram