Van Ryn’s bied unieke versnit van SA se oudste potketelbrandewyne

Date posted:
June 29, 2012

Internasionale fynproewers het regop gesit toe hulle hoor dat die heel oudste Suid-Afrikaanse potketelbrandewyn as ’n baie seldsame, luukse versamelaarsitem bekend gestel word. Selfs voor die amptelike bekendstelling het ’n naamlose koper uit Kenia die ekwivalent van R30 000 vir ’n kristalkraffie van 750 ml betaal. Dit is waarskynlik die hoogste prys wat nóg vir ’n brandewyn uit Suid-Afrika betaal is.

 

Die 30 jaar oue brandewyn dra die Van Ryn’s-etiket, en die naam AU.RA. Dit is ’n versnit van die heel beste potketelbrandewyne. Die meeste daarvan is 30 jaar oud, maar die versnit bevat ook brandewyne wat tot 40 jaar verouder is. Kragtens die wetgewing wat brandewyn in Suid-Afrika reël, moet die ouderdom op ’n etiket dié van die jongste bestanddeel van die versnit wees.

 

Die naam AU.RA kom van die chemiese simbool (Au) vir goud, en die Egiptiese songod Ra.

 

Volgens die brandewynmeester, Marlene Bester, is dit ’n eenmalige aanbod wat nie herhaal kan word nie omdat daar nie genoeg brandewyne is wat só oud is nie.

 

“Hierdie gebrek aan die beskikbaarheid van sulke eerbiedwaardige brandewyne is nie beperk tot Van Ryn’s nie. Hulle bestáán eenvoudig nie in Suid-Afrika nie.”

 

Net 107 kristalkraffies van 750ml van hierdie spesiale vog word beskikbaar gestel om die 107 jaar dat brandewyn by die eksklusiewe, chateau-agtige Van Ryn's-distilleerdery naby Stellenbosch gemaak word, te gedenk.

 

Elk van die 107 kom in ’n unieke handgemaakte houer wat soos ’n luukse parfuumfles of kraffie lyk. Die houers is individueel geskep deur die befaamde glaskunstenaar David Reade, wie se werk in plaaslike en buitelandse galerye en versamelings pryk. Danksy die vorm daarvan lyk dit of hierdie vloeibare goud in ’n traandruppel hang, en herinner dit aan die eerste druppel van die vog wat in die dubbeldistilleringproses kondenseer. Die traanfatsoen word in elke handgemaakte prop herhaal, soos ook in die handgemaakte silwerhangers wat elke kristalkraffie versier. Dié is deur die plaaslike juweliersontwerper Bridget Zietkewicz gemaak.

 

Elke kristalkraffie kom in ’n kassie van soliede eikehout wat met die hand gedraai is – die skepping van die argitek en meubelontwerper James Mudge. ’n Egtheidsertifikaat word vir elkeen uitgereik.

 

Die brandewyn word nét by Van Ryn’s verkoop. ’n Private telefoonlyn is aangebring vir diegene wat ’n kristalkraffie wil koop. Die plaaslike prys word op versoek verstrek.

 

Bester sê AU.RA toon sommige van die kenmerkende geure en ryk tekstuur van die veelbekroonde Van Ryn’s Collection Reserve-reeks, maar is baie eiesoortig.

 

“Danksy die ouderdom daarvan is dit buitengewoon sag, met uitmuntend geïntegreerde eienskappe. Eers is daar ’n geur van lemoenbloeisels, vanielje, sjokolade, soet droëvye, gemmer en geroosterde haselneut, en dan ’n fluweelsagte smaak van neute, koffie en sjerrie, en ’n talmende, romerige nasmaak.

 

“Dit was ’n uitsonderlike voorreg om met sulke uitmuntend verouderde brandewyn te kon werk – ongetwyfeld ‘n hoogtepunt van my loopbaan,” het Bester bygevoeg.

 

Caroline Snyman, die hoof van Distell se spiritualieë-sakeafdeling en self ? brandewynmaker, het gesê AU.RA was letterlik ’n distillering van die opwindende brandewyntalent in Suid-Afrika.

 

“Ons bou sedert die eeuwending ’n internasionale reputasie vir uitnemendheid in die maak van brandewyn. In net 13 jaar het Suid-Afrika die titel van beste brandewyn ter wêreld reeds 10 keer verower. Hierdie weergalose versnit gee uitdrukking aan die brandewynvaardigheid, -kennis en -elegansie waarvoor ons land al meer bekend word. Dit is ’n waardige ambassadeur vir die heel beste wat brandewyn kan bied en gooi ’n mantel van prestasie oor alle Suid-Afrikaanse brandewyne.”

 

Van Ryn’s se tuiste, wat in 1905 gebou is, is deesdae ’n vyfsterlokaal wat brandewyn-fynproewers van oral ter wêreld lok. Van Ryn’s-brandewyn het sy oorsprong gehad by die Nederlandse immigrant, Jan van Ryn, wat sy eerste winkel vir die verkoop van wyn en brandewyn in 1845 geopen het. Van Ryn’s is nou die mees bekroonde brandewynnaam in Suid-Afrika.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram