Van Loveren stel SA se eerste Pinot Grigio Rosé, Perlé de Jean, bekend

Rosé is al beskryf as “romanse in ’n bottel”. Hierdie gewilde wynstyl is nie net veelsydig en elegant nie, maar het reeds wêreldwyd byval gevind onder sowel manlike as vroulike wynliefhebbers, en groei steeds in gewildheid. Dit het daartoe gelei dat ’n hele rits kultivars reeds ingespan is om dit te maak.

 

Die jongste kultivar wat in Suid-Afrika by hierdie wynstyl aangesluit het, is pinot grigio danksy Van Loveren Family Vineyards buite Robertson. Hierdie bekende en bekroonde landgoed het besluit om Suid-Afrika se eerste perlé-styl pinot grigio rosé toe te wy aan die ontslape Retief-matriarg, Jean, wat bekend was vir haar liefde vir tuinmaak en die lowergroen tuin op die landgoed wat sy en haar man, Hennie, met soveel liefde en toewyding sedert 1939 geskep het. Hierdie passie word weerspieël in die etiket-ontwerp van die Perlé de Jean Pinot Grigio 2018.

 

Heelwat van die bome in die tuin is geplant om spesiale geleenthede te vier en die Van Loveren-tuin bevat bome wat geskiedkundige oomblikke, politieke figure, elf kleinkinders, hoofseuns en –dogters, gradeplegtighede en ander prestasies verteenwoordig. Die tuin is steeds ’n groot aantrekkingskrag en word jaarliks deur honderde toeriste besoek.

 

Die Perlé de Jean Pinot Grigio 2018 het ’n alkoholinhoud van slegs 12% en spog met ’n pragtige, elegante en romantiese bleek roosblaarkleur en ’n helder skynsel. “Dit stel ’n fyn neus vry van uitlokkende vars framboos-, aarbei-, rooi korent-, ryp sitrus- en spanspek-aromas met ’n sweempie suurlemoen,” verduidelik die wynmaker, Chris Crafford. “Die wyn is medium in gewig, vars met goeie greep en fyn ekstrak, en spog met elegante vrugtegeure in die mond en ’n talmende nasmaak.”

 

“Hierdie droë wyn met sy effense vonkel is ’n suiwer uitdrukking van die somer en sal puik pas by varktjops en geroosterde perskes, somerslaaie, soesji, geroosterde groente en vars bessies,” voeg Perlé de Jean se handelsmerkbestuurder, Johline Barnardt, by. “Die unieke perlé-styl gee die wyn ’n effense vonkel wat bydra tot sy verfrissende aanloklikheid, en dis gewaarborg om die tonge aan die gons te sit.

 

“Rosé is een van die vinnigste groeiende wynstyle in sowel Suid-Afrika as wêreldwyd. In Suid-Afrika alleen het die afset van rosé-wyne die afgelope paar jaar met dubbelsyfers gegroei. Dit is opwindend vir sowel verbruikers as wynmakers, en daar bestaan geen twyfel nie, rosé is sexy!”

 

Die gewildheid van rosé is ’n vroulik-gedrewe fenomeen wat baie mans reeds uitgelok het. Dit het ook gewild geword buite die sogenaamde “waterfront-enklawes”, sê Johline. Rosé se gewildheid het gelei tot kletspunte in die VSA (#brosé for bro’s that like the drink), gewilde handelsmerke (White Girl Rosé) en die betrokkenheid van glanspersoonlikhede (die nuwe rosés van die aktrise Drew Barrymore).

 

Rosé-kenners reken die rede vir hierdie wynstyl se gewildheid vandag is die feit dat produsente meer aandag aan gehalte gee as in die verlede.

 

Die Perlé de Jean Pinot Grigio 2018 is landwyd beskikbaar by die meeste drankwinkels teen slegs R69,99 per bottel. Vir diegene wat verkies om aankope aanlyn te doen, hierdie “somer in ’n bottel” kan direk by thewinehub.membernet.co.za  aangeskaf word.

 

Vir meer inligting, besoek www.vanloveren.co.za.

 

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>