Usana: Van medisyne tot bekroonde wyne!

In 1935 is die groothandel-wynprodusent Stellenbosch Farmers Winery (SFW), oftewel Stellenbosch Boere-Wynmakery (SBW), gestig deur ’n Amerikaanse dokter, ene William Charles Winshaw. Saam met ene Krige Jnr, wie se pa ’n deel van die plaas Libertas langs die noordelike oewer van die Eersterivier in Stellenbosch gekoop het, het hy begin wyn maak op die grond wat hulle Oude Libertas gedoop het.

Net so terloops, SBW was destyds die grootste van die plaaslike groothandel-wynprodusente.

Die herehuis met ‘n paar beeste in die voorgrond.

As ’n voormalige mediese dokter en passievolle wynliefhebber het Winshaw gekonsentreer op die maak van natuurlike wyn aangesien hy van mening was dat dit gesonder was as die gefortifiseerde wyne wat destyds gewild was. Hy het naam gemaak met die bekendstelling van Lieberstein, ’n droë witwyn wat verkoopsrekords opgestel het. Lieberstein het gou die wêreld se gewildste wynhandelsmerk geword.

Pierre en JP Winshaw.

Vier geslagte later sit die Winshaw-broers, John Philip (JP) en Pierre, die trotse tradisie van hul oupagrootjie voort op die plaas Klein Welmoed by Lynedoch buite Stellenbosch met hul Usana-handelsmerk. Hul pa, John, het die plaas in 1970 aangeskaf.

Usana, ’n Xhosa-woord wat ’n nuwe begin beteken, is baie gepas vir die Winshaw-broers aangesien dit vir hulle ook ’n nuwe begin is … een met die nektar van die gode!

Klein Welmoed beslaan sowat 300 hektaar waarvan ongeveer 50 hektaar onder wingerd is. Die kultivars sluit in sauvignon blanc, pinot gris, chardonnay en chenin blanc aan die wit kant en cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot, malbec en petit verdot aan die ander kant. Tans word net vier wyne onder die Usana-handelsmerk bemark, naamlik ’n Cabernet Sauvignon (R140 op die plaas), Chenin Blanc (R115), Sauvignon Blanc (R88) en Pinot Gris (R88).

En daai plakkertjies op die bottels is nie net vir “show” nie. Toekennings van die Michelangelo International Wine Awards en lofbetuigings in die gesaghebbende Platter-wyngids en WineMag.co.za spreek boekdele vir die gehalte van die wyne onder hierdie handelsmerk.

So word ‘n wynproe mos gedoen … met biltong en droewors!

“Ons wyn word tans deur die bekende Jasper Raats van Longridge gemaak aangesien ons eie kelder baie oud is en aandag nodig het,” het JP verduidelik terwyl ons lustig weg geval het aan die wyne en die biltong en droëwors wat as aanloop gedien het vir die middagete. “Ons het groot planne met die plaas, en dit sluit die opknapping van die kelder in. Dit word tans as stoor gebruik. Hier is laas in die 60s op die plaas wyn gemaak.”

Die eerste van die “nuwe” wyne van Klein Welmoed is in 2004 gebottel. Aanvanklik was dit net twee wyne, ’n sauvignon blanc en ’n cabernet sauvignon, en hulle is in klein hoeveelhede gemaak. Die twee broers het in 2010 die leisels op Klein Welmoed oorgeneem. Hul eerste oesjaar was 2011 toe eers ’n Pinot Gris gebottel is en daarna hul houtgegiste Chenin Blanc.

“Ons gebruik net sowat 9% van ons jaarlikse oes vir die Usana-handelsmerk. Die res van die druiwe word deur ander wynmakerye aangekoop. Ons het ook tans 6 hektaar onder cabernet sauvignon en merlot vir Rupert & Rothschild.”

Terwyl ons langs die braaivleisvuur staan, elkeen met ’n glas van daai Cab in die hand, en JP die stukke beesvleis skrik maak op die kole (nes ek hou hy van sy biefstuk byna rou, of very rare, en reken hy ook gaar beesvleis is reg vir net een ding, versoolde bande!), vertel hy my van hul wynmaakfilosofie: “Ons wil ons eie stempel op ons wyne afdruk en daarom is ons betrokke by die hele proses. Usana-wyne moet lekker wees. Almal moet dit kan geniet. As hulle toekennings wen en lofbetuigings ontvang, is dit ’n welkome bonus. Die eerste prys bly egter steeds dat die wyne ’n glimlag na die mond moet bring.

“Ons het reg aan die begin besluit op natuurlike gisting vir ons wyne. Dit laat hulle toe om die ware eienskappe van die druiwe te weerspieël.”

Die wingerde waaruit Usana-wyne hul druiwe kry.

Daar word tans geëksperimenteer met ander kultivars, insluitende malbec, merlot, cabernet franc en chardonnay, en dis duidelik dat die Winshaw-broers innovering net so hoog ag as tradisie.

Klein Welmoed is egter meer as wyn. Daar word ook met beeste en hoenders geboer (albei loop die wêreld vol in kampe), en daar was selfs in ’n stadium skape op die plaas, maar in die land van die lang vingers het die skape snags glo begin AWOL (Vir diegene wat nie weet nie, dis die weermagwoord vir Absent Without Leave)!

Aangesien Klein Welmoed nog nie ingerig is vir besoekers nie, moet wynproe-afsprake vooraf gereël word. Kontak gerus vir JP op 083 650 9528 of jp@usana.co.za en gaan proe hul wyne. Jy sal beslis nie wegry sonder Usana-wyne in jou kattebak nie! En miskien ook met Klein Welmoed se biefstuk en eiers!

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>