Die uitvoer van Suid-Afrikaanse wyn het ‘n positiewe tendens getoon in die eerste ses maande van 2012 en die totale uitvoervolume het met 9% gegroei.
Dit is veral die bottelering van bulkwyn in Europa wat ‘n merkbare impak op die Suid-Afrikaanse wynbedryf het, verduidelik Wines of South Africa (WOSA). Die uitvoer van bulkwyn het met 31% toegeneem, terwyl die uitvoer van wyn wat in SA verpak is, afgeneem het met 9%.
WOSA sê dis opmerklik dat bykans al die Suid-Afrikaanse volume-handelsmerke wat in Europa verkoop word, na bulkuitvoere beweeg en dat Suid-Afrika nou vir die eerste keer in jare meer bulkwyn as verpakte wyn uitvoer (slegs 40% van SA se uitvoere in 2010 was bulk).
Daar is egter ‘n paar beduidende hoogtepunte in terme van verpakte uitvoersyfers, aldus WOSA. Die uitvoer van verpakte wyn na Duitsland, Suid-Afrika se derde grootste uitvoermark, het met 5% toegeneem, terwyl die toename na Kanada 16% is, na Finland 8%, na Kenia 55%, na Japan 21% en 41% na Rusland, om maar net ‘n paar te noem.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast