Uitkyk se Grand Reserve-brandewyn beïndruk Duitse kundiges

Date posted:
May 13, 2011

Uitkyk se 10-jaaroue Grand Reserve-brandewyn, wat heel ongewoon van sowel rooi as wit druiwe gemaak word en subtiele druiwe-, vanielje- en kruinaeltjie-smake bied, het nog ’n paneel beoordelaars geïmponeer. Dié keer het dit by die 2011- Internationaler Spirituosen Wettbewerb (Internasionale Spiritualieë-toekennings), wat in Duitsland gesetel is, ’n goue medalje verower.

 

Verlede jaar het dié potketelbrandewyn by die International Wine & Spirit Challenge ook ’n goue medalje ontvang en by daardie geleentheid in Londen die hoogste punte in sy kategorie verdien.

 

Die ISW-toekennings word deur die OIV (Internasionale Wyn- en Wingerdorganisasie) geakkrediteer en gebruik beoordelaarspanele waarvan die lede nie net kundiges in die handel en bedryf is nie, maar ook kroegmanne en wetenskaplikes insluit. Hulle bied dus besonder breë insigte in die spiritualieë wat hulle beoordeel.

 

Uitkyk se Grand Reserve word gemaak van cinsaut, chenin blanc en clairette blanche wat op dié plaas naby Stellenbosch groei. Die brandewyn is dubbel gedistilleer in koper-stookketels wat op die tradisionele manier oor ’n oop vlam verhit word.

 

Die distillaat het ’n hele dekade lank in vate van 300 liter van medium geroosterde Limousin-eikehout gelê – eers vir nege maande in nuwe vate en daarna in derdevulvate om ’n sagte nasmaak te verseker.

 

Estelle Lourens, Uitkyk se wynmaker, beskryf die brandewyn as een in ’n elegante styl, met ’n klassieke profiel. “Ons lê die klem op nuanse en subtiliteit. Die druiwesmaak word met tikkies vanielje en kruinaeltjies gematig.”

 

Uitkyk Grand Reserve is teen sowat R358 op die landgoed te kry of by uitgesoekte handelaars.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram