Uitkyk se Carlonet vier 50 jaar

Date posted:
December 3, 2010

Uitkyk se wynmaker, Estelle Lourens, het ’n spesiale weergawe van hierdie Stellenbosse landgoed se vlagskipwyn, Carlonet, bekend gestel om die 50ste bestaansjaar daarvan te vier. Die 2007-oesjaar, wat gemaak is ’n halwe eeu nadat hierdie Uitkyk-versnit as Carlonet geregistreer is, is ryk, weelderig en fluweelsag, en word oorheers deur cabernet sauvignon, met 12% shiraz.

 

Lourens het dit in dieselfde styl as die oorspronklike gemaak – volrond met aardse kruiegeure – maar sy het ’n moderne dimensie bygebring deur groter klem op die vrugte se vars en lewendige donkerbessiegeure te plaas.

 

“Die wyn is ’n geskiedkundige ikoon en ek wou nie te ver wegbeweeg van sy oorspronklike profiel nie. Ek wou egter terselfdertyd ook nie die voordeel van vrugtesuiwerheid verloor wat moontlik gemaak word deur gevorderde wingerdboukundige bestuur aan die een kant en aan die ander kant deur terug te gaan na die basiese om ons impak op die omgewing te verminder nie.”

 

Die naam Carlonet, oorspronklik ’n versnit van cabernet sauvignon en hermitage (cinsaut), kom van George von Carlowitz wie se pa, ’n Duitse edelman wat op aanbeveling van die befaamde wingerdboukundige, prof. Izak Perold, cabernet sauvignon, shiraz en hermitage op die plaas geplant het. Lourens glo Von Carlowitz het die versnit reeds in 1949 begin maak. Carlonet is egter eers in 1957 as handelsmerk geregistreer.

 

Von Carlowitz junior het cinsaut in die versnit ingesluit om die veroudering daarvan te versnel, en die wyn is as markgereed beskou ses jaar nadat dit gemaak is. Vandag, sê Lourens, benodig die wyn net drie jaar se veroudering voordat dit reg is om geniet te word.

 

“Dis ’n groot maar pragtig gebalanseerde wyn met verfrissende geure, ’n goeie integrasie van vrug en hout, en sagte, soepel tanniene.”

 

Volgens Lourens is cinsaut iewers in die tagtigerjare uit die versnit gelaat. Dis ’n tyd lank net van cabernet sauvignon gemaak, en dis steeds soms die geval, maar dit hang af van oesjaartoestande.

 

Sy vertel dat vir ’n kort rukkie in die laat negentigerjare die wyn nie onder die naam Carlonet bemark is nie, maar as Cabernet Sauvignon in lyn met die destydse praktyk dat wyn se etikette die kultivar moes reflekteer. Die naam Carlonet is egter in 2001 na vele versoeke teruggebring.

 

Van die 2007-oesjaar sê sy: “Die meeste van die cabernet sauvignon vir die versnit kom van Uitkyk se uitsonderlike Bordeaux-blok, so genoem omdat dit hoofsaaklik in die vroeë negentigerjare herplant is na ’n besoek aan Bordeaux om na wingerdboukundige praktyke te gaan kyk. Dit het gelei tot ’n algehele hersamestelling, met die gapings tussen sowel wingerdrye as wingerdstokke wat aansienlik vernou is. Die opgeleide stokke wat onder hierdie toestande groei, sowat 8 000 per hektaar, beskik oor kleiner wortelstelsels en kappe met minder trosse, maar die gehalte van die druiwe is uitsonderlik. Die stokke is geneig om klein bessies te lewer met ’n uitstekende dop-tot-vrugverhouding.”

 

Lourens het ook druiwe van cabernet sauvignon-bosstokke ingesluit om die wyn ’n dimensie van ryk, rooivrugte te gee, terwyl die shiraz groter diepte daaraan verleen.

 

Die meeste van die wyn wat die versnit vorm, het appelmelksuurgisting in die vat ondergaan om daaraan ’n stewige rondheid te gee. Dit het ’n verdere 19 maande in ’n kombinasie nuwe, tweede- en derdevul- Franse, Amerikaanse en Hongaarse eikevate van 300 liter deurgebring.

 

Die gedenkbottels met hul spesiale plakkers is nie die enigste manier waarop Lourens na die verlede kyk nie. Sy en die wingerdboukundige span maak 600 hektaar van die landgoed skoon van indringerplante en rehabiliteer daarop die oorspronklike fynbos.

 

“Ons bring alles terug in balans deur water versigtiger aan te wend, die gebruik van trekkers in die wingerde te verminder en oor die algemeen meer lewe in die grond terug te sit. Ons sien die resultate in die meer intense geur van die druiwe.”

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram