UITKYK NOU ’N BWI-KAMPIOEN

Date posted:
April 4, 2011

Die Uitkyk-wynlandgoed is die jongste wynmakery wat die Biodiversiteit- & Wyninisiatief (BWI) se kampioenstatus verwerf het. Dit is die twintigste wynmakery wat hierdie onderskeiding behaal.

 

Die landgoed, wat een van die grootste in die Stellenbosch-omgewing is, het 310 ha of 52% van die plaas van 591 ha vir bewaring opsy gesit. Die normale vereiste vir kampioenstatus is 10 ha.

 

Uitkyk is vir baie sinoniem met Carlonet, een van die klassieke rooiwyne van die Kaapse wynlande. Daarbenewens produseer die landgoed ook sy eie reeks wyne onder die Uitkyk-handelsmerk en die gewilde Flat Roof Manor-reeks.

 

Die plaas, wat van 1712 dateer, lê teen die suidwestelike hellings van Klapmutskop. Die wingerde is teen die hoër hellings geplant en word van mekaar geskei deur vier diep klowe wat natuurlike korridors tussen hulle vorm. Hierdie korridors skep natuurlike deurgange waarlangs kleinwild en kleiner roofdiere ongehinderd kan beweeg.

 

Rudi Buys, die wingerdboukundige en bestuurder van Uitkyk, het gesê ? aansienlike deel van die grond wat vir bewaring opsygesit is, lê binne die Groter Simonsberg-bewaringsgebied waarvan Uitkyk lid is.

 

“In hierdie bewaringsgebied is een van die grootste voorkomste van die krities bedreigde tipe renosterveld wat op Swartland-skalie gevind word. Ons roei sedert 2008 jaarliks indringer-plantegroei op 8 tot 10 ha grond uit. Toe ons onlangs in een van die klowe die grond skoongemaak het, het ons tot ons blydskap afgekom op ? klompie silwerbome, ? lid van die inheemse Protea-familie wat byna uitsluitlik teen Tafelberg groei. Ons is nou uiteraard baie gretig om hierdie bome op die plaas sterker gevestig te kry.”

 

Buys het gesê die plaaswerkers help tussen werk in die wingerd en in die kelder om die veld van indringerplante skoon te maak.

 

“Soos inheemse plante hulle weer op die skoongemaakte grond begin vestig het, het ons almal se betrokkenheid by die projek ook grootliks toegeneem.”

 

Buys het gesê daar was die laaste klompie jare op Uitkyk ? sterk aksent op volhoubare boerdery.

 

“Ons was van die eerste wat uilpale in die wingerde opgerig het om knaagdiergetalle onder beheer te hou. Ons het die dwarshoute daarvan so ontwerp dat dit die greep van ? verskeidenheid van roofvoëls pas. Terwyl uile, hoofsaaklik die Kaapse ooruil, dit gebruik om snags van te jag, sien ? mens in die dag ander roofvoëls, soos jakkalsvoëls en rooivalke, wat vandaar die omgewing sit en bespied.

 

“Duikers en grysbokkies is deesdae volop, en die digte klowe bied volmaakte skuiling aan die rooikatte wanneer hulle jag maak op hul gunstelingkos, tarentale. Die voëllewe is deesdae ook besonder ryk met meer en meer soorte wat op die plaas kom nesmaak,” het Buys gesê.

                                                                           

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram