Two Oceans, Place in the Sun dra by tot SA wyne se wêreldwye medalje-oes

Date posted:
October 19, 2012

’n Keur van die wyne uit die gewilde Two Oceans-reeks ry op ’n golf van silwer medaljes wat hulle in Londen by vanjaar se International Wine & Spirit Competition (IWSC) gebuit het. Vyf van die wyne in die reeks is met silwer medaljes beloon, al was hul mededingers wyne van orals in die suidelike halfrond wat aansienlik meer kos.

 

Die wenners is Two Oceans se Pinot Noir, Shiraz, en Pinotage van die 2011-oesjaar, en die Shiraz Rosé en Pinot Grigio van die 2012-oesjaar. Behalwe die Pinotage sal al vier die ander wyne in Suid-Afrika te koop wees.

 

“Die reeks se pryse dui op alledaagse lekkerdrinkwyn, maar die reeks palm ook lof van die kritici in,” sê Jackie Olivier, die handelsmerk se internasionale woordvoerder.

 

Die 2012- Two Oceans Shiraz Rosé het van Duitsland af huis toe gekom met ’n goue medalje wat hy enkele weke gelede by Mundus Vini in sy sak gesteek het.

 

Die wyn kos ongeveer R33 per bottel in Suid-Afrika.

 

En dieselfde twee wyne wat vroeër vanjaar vir Place in the Sun, wat Fairtrade-akkreditering het, in Londen medaljes gewen het, is pas weer in Londen vereer.

 

Dié keer het die 2011-oesjaar van sowel die Shiraz as die Cabernet Sauvignon silwer medaljes van die IWSC huis toe gebring. Enkele maande gelede het die 2011- Shiraz by die 2012 Decanter World Wine Awards ’n goue medalje verower, en die 2011- Cabernet Sauvignon (links) ’n silwer.

 

Albei wyne tel onder die eerstes in Suid-Afrika wat die Etiek-seël mag vertoon as bewys dat hulle met elke stap, van die wingerd tot die bottel, billike arbeidspraktyke volg.

 

Deon Boshoff, die keldermeester, beskou die handelsmerk se bestendige vertonings in die buiteland as ’n baie bemoedigende teken. “Sulke prestasies maak ’n groot verskil. Ons is ’n nuwe handelsmerk, en die positiewe aandag help dat mense ons raaksien.”

 

Al die druiwe vir Place in the Sun se wyn word teen ’n premie gekoop, en dié geld word bestee aan projekte om die lewensgehalte van die plaaswerkers en hul gesinne te verbeter.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram