Twee trofeë en tien sterre vir Nederburg!

Date posted:
August 27, 2009

Nederburg se Winemaster’s Reserve Noble Late Harvest 2008 het sowel die internasionale as die Suid-Afrikaanse trofee vir ’n laatoeswyn by die International Wine Challenge (IWC) 2009 in Londen gewen én is in Platter’s South African Wine Guide vir 2010 met vyf sterre bekroon.

 

Dié ryk maar tog delikate wyn met sy lewendige suur is ook by die Ou Mutual-trofeewynskou van 2009, waar Nederburg as die suksesvolste produsent na vore getree het, met ’n goue medalje beloon. Dit is een van die wyne wat geskink sal word vir die 850 gaste wat die IWC se glansryke toekenningsdinee in September bywoon.

 

“Ons is in die wolke oor die vertroue wat allerweë in die wyn betoon word. Dit maak deel van ons hoofstroomreeks uit en is dus geredelik vir wynliefhebbers beskikbaar,” het Razvan Macici, Nederburg se keldermeester, gesê.

 

Nederburg se tweede vyfsterwyn in Platter is die Ingenuity White 2008, ’n sterk maar genuanseerde versnit van agt wit wyne. Soos sy voorganger, die 2007-oesjaar wat ook in Platter met vyf sterre vereer is, oorheers sauvignon blanc, maar nie in dieselfde mate nie. Dié keer maak hierdie druifsoort ’n kwart van die versnit uit om ? fris, grasagtige struktuur en geur daaraan te verleen, maar sémillon maak nou 19% van die versnit uit, in plaas van 6%, en verleen aan die wyn ’n frisser, meer mineraalagtige en getekstureerde smaak, het Tariro Masayiti, Macici se kollega, gesê.

 

Al agt druifsoorte in die wyn is apart tot wyn gemaak en daarna versny. Die wyn is oordeelkundig aan Franse eikehout blootgestel om diepte en karakter daaraan te verleen, het hy gesê. Die ander druifsoorte is chardonnay (25,4%) en nouvelle (12,5%), viognier, baie ryp chenin blanc van bosstokke, riesling en ’n tikkie muskadel om die smaak af te rond.

 

Die Noble Late Harvest in 375ml bottels kos sowat R60, en die Ingenuity White, ’n mikro-cuvée, sowat R140 vir ’n 750ml-bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram