Die majestieuse Outenikwaberge lê in die hart van die natuurskone Tuinroete en is die tuiste van die Garden Route-wynreeks.
Die wyne, wat uit ‘n sauvignon blanc en shiraz bestaan, word van druiwe gemaak wat in hierdie bergagtige gebied verbou word, 600 meter bo seevlak en minder as 20 km van die Indiese Oseaan af. Hierdie wynreeks is in 2011 onder die wakende oog van die bekende wynmaker, Boets Nel, bekend gestel en wynliefhebbers kan nou die jongste oesjare van albei geniet.
Voordat hy die nuwe wynreeks aangepak het, het Boets heelwat navorsing gedoen oor die moontlikheid om premie-wyne van sauvignon blanc- en shiraz-druiwe uit die koelklimaat- Waboomskraalgebied aan die voet van die Outenikwaberge naby George te maak. Albei kultivars vaar uiters goed hier. Boets glo dat sowel sauvignon blanc- as shiraz-wingerdstokke die invloed van die oseaan benodig sodat die druiwe stadig kan ryp word om uitmuntende wyne soos dié van die Garden Route-reeks te maak.
Hy beskryf die Garden Route Sauvignon Blanc 2012 (links) as ‘n komplekse wyn met tropiese vrugte- en grasagtige geure ondersteun deur ‘n heerlike, aardse mineraliteit, tipies van sy koelklimaatoorsprong. Die wyn is as die kampioen- sauvignon blanc in sowel 2011 as 2012 op die Klein Karoo-jongwynskou aangewys en kos sowat R60 per bottel landwyd by uitgesoekte drankhandelaars. Geniet hierdie perfekte somerwyn op sy eie, koud, of bedien dit saam met geroosterde witvleisgeregte of vars seekosdisse.
Die Garden Route Shiraz 2011, wat as die beste shiraz aangewys is op verlede jaar se jongwynskou in die Klein Karoo, is ‘n rooiwyn met vele karaktertrekke. Hy bied geure van ryp vrugte wat perfek gebalanseer word deur romerige, ryk vanielje-eikehout. Dis die ideale pasmaat vir enige geroosterde of gerookte rooivleisdisse soos wildsvleis, lamsvleis of kalfsvleis. Die wyn kos sowat R80 per bottel by uitgesoekte drankhandelaars landwyd.
Vir meer inligting oor hierdie wyne, kontak Boets Nel by 044 213 3314 of dekrans@mweb.co.za.
EINDE
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast