Twee Bonnievale-wyne triomfeer in Franse beoordeling

Bonnievale Wines in die Breëriviervallei, reeds bekend vir sy wynmaakspan se passie en die gehalte van sy wyne, het laasgenoemde weer eens bevestig met twee wyne wat puik presteer het in die Gilbert & Gaillard International Awards in Frankryk.

Die bekroonde wyne, wat met Bonnievale Wines se mondigwording bekend gestel is, is die Bonnievale Limited Release Chardonnay 2019, wat ’n goue medalje ingepalm het, en die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2017, waaraan 91/100 punte toegeken is.

Al die wyne vir die kompetisie is “blind” geproe. Die paneel het die Cabernet Sauvignon beskryf as ’n wyn vol rooivrugte-, swart- en braambessiegeure met sweempies speserye. “’n Medium tot volronde wyn met ‘n boeiende smaak en talmende suur,” lui die proeverslag verder. “Met ‘n talmende einde, greinerige tanniene en baie vrug kan die wyn dadelik geniet word of verouder vir ‘n paar jaar.”

By die Chardonnay (foto regs) het geure van ryp peer en sitrus uitgestaan. “’n Romerige en ryk wyn met baie sekondêre geure van marmelade, gedroogte vrugte en ’n vars en vruggedrewe afronding. Die suur is lewendig. ’n Wonderlike voorbeeld van die streek. Drink nou, maar sal baie goed verouder.”

Chardonnay is lank reeds die ster in die Bonnievale-portefeulje. Die Limited Release Chardonnay 2019 is vir sewe maande in Franse eikehoutvate verouder. Dit kan met eend, vark of ’n bord verouderde kaas geniet word.

Die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2017 kos R140 per bottel en die Limited Release Chardonnay 2019 R95 per bottel.

Vir meer inligting oor Bonnievale Wines se wynreeks, skakel 023 616 2795 of stuur ’n epos aan info@bonnievalewines.co.za, of besoek www.bonnievalewines.co.za.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>