Tussen Schaapenberg en Valsbaai lê ‘n wonderlike wynwêreld en wag

Date posted:
December 14, 2011

Sommige wynmakers het dit net soveel lekkerder en beter as ander! Vat nou daai handjievol tussen Somerset-Wes en Sir Lowryspas. As hulle die rug keer op Valsbaai, staar hulle vas teen ‘n natuurtoneel wat net as asemrowend beskryf kan word. Ek meen, die majestieuse Schaapenberg, wat deel uitmaak van die Hottentots Hollandberge, met sy golwende voetheuwels bedek met wingerde is beslis nie ‘n gesig wat mens gou vergeet nie.

As jy tussen die wingerde teen een van daai heuwels staan of by een van die proelokale en jy kyk weer in die ander rigting, dis nou see se kant toe, dan besef jy gou waar jy baie eerder jou kantoor sal wil hê! Met sulke GROOT vensters natuurlik. En ‘n balkon om op uit te stap. Met ‘n glas wyn in die hand! Een van die wyne wat ek daai dag geproe het.

Oukei, jy moet dan net sorg dat die nywerheidsontwikkeling tussen Gordonsbaai, Somerset-Wes en die Strand nie in jou gesigsveld is nie want dit bederf als! Wys jou net weer dat sogenaamde vooruitgang dikwels niks minder is nie as agteruitgang. Maar dis ‘n baklei vir ‘n ander dag.

Ek soek al lank ‘n verskoning om by daai kelders te gaan inloer en toe ek dit nie meer kon hou nie, toe bel ek vir Annareth Bolton, die Stellenbosch-wynroete se pragtige en baie bekwame “hoofmeisie”, en ek vra of sy nie iets wil reël nie. En ek ken mos vir Annabella: sy laat nie gras onder haar voete groei nie!

En gou-gou kry ek toe ‘n vonkpos wat sê alles is gereël, en een sonnige weeksdag vat ek die pad in Nissan se sprankelnuwe Juke. Voor ek by die kelders, hul wynmakers, hul wyne en die pragtige uitsigte kom, eers so ‘n ietsie oor hierdie buksie wat nog baie harte gaan steel. Behalwe dat hy oral die koppe laat draai, maak hy jou voel of jy baie jonger is as jou jare, en dis miskien nie aldag ‘n goeie ding nie! Lees gerus meer by http://planeetwyn.co.za/node/3065.

Links: The Idiom Collection, die ideale geskenk vir enige wynliefhebber!

My besoek het afgeskop by De Capo Vineyards (021-852-3590 / wine@idiom.co.za) naaste aan Sir Lowryspas. Oukei, as die naam nie ‘n klokkie lui nie, moenie bekommerd wees nie. As die handelsmerk Idiom vir jou onbekend is, kan jy gerus maar! Omdat De Capo Vineyards tans geen kelder of proelokaal het nie, het ek en Tim Clark, die bestuurder, sommer in sy kantoortjie gesels, terwyl hy gereël het dat ek The Idiom Collection later sou optel.

Maar voordat ek by The Idiom Collection kom, eers ietsie meer oor De Capo Vineyards. Alberto Bottega en sy gesin het beslis hier iets begin wat groot belofte inhou. Volgens Tim word ‘n kelder en ‘n proelokaal vir die plaas beplan met uitsigte wat mense se knieë in jellie sal verander. Intussen hou hy toesig oor 110 hektaar waarvan 34 hektaar onder 14 rooi en 3 wit kultivars beplant is.

De Capo se wyne is tans slegs beskikbaar vir proe en koop by Whalehaven naby Hermanus, maar dis sonder twyfel die rit werd!

The Idiom Collection bestaan uit 6 wyne – Idiom Sangiovese 2007; ‘n rooi versnit van die 2006-oesjaar bestaande uit cabernet sauvignon, merlot en cabernet franc; Idiom Viognier 2008; Idiom Cape Blend 2006 bestaande uit cabernet sauvignon, pinotage en merlot; ‘n rooi versnit van die 2007-oesjaar bestaande uit shiraz, mourvèdre en viognier; en Idiom Zinfandel (PRIMITIVO) 2010. Ek het reeds die Viognier 2008 geproe ... en sien baie uit na die res!

Volgens Tim is Alberto Bottega se filosofie as volg: “I want wines I can offer my friends with pride.” Wel, dit kan hy beslis doen!

Regs: Leon Esterhuizen tussen die vate in die kelder op Journey's End.

Hiervandaan is ek basies net om die draai na Journey’s End (021-858-1929 / info@journeysend.co.za) waar die wynmaker, Leon Esterhuizen, my ingewag het. Na ‘n besoek aan die kelder is ons twee na die proelokaal met sy asemrowende uitsigte op die omliggende berge en Valsbaai, en wingerde natuurlik, waar hy my meer van die landgoed vertel het so tussen die geproe van die landgoed se bekroonde wyne.

Die Gabb-gesin het die plaas in 1996 aangeskaf en onmiddellik begin met die heraanplanting van die wingerde. In 2010 is die moderne kelder voltooi en sedertdien gaan Journey’s End van krag tot krag. Net een kykie na die ellelange lys toekennings – plaaslik van vyfstergraderings in die gesaghebbende Platter’s-wyngids tot Veritas-toekennings en in die buiteland van Decanter-toekennings tot toekennings op die International Wine Challenge – en jy besef Leon en sy span is beslis nie sommer hierjy’s in wynmaakterme nie! My smaakkliere kan daarvan getuig.

Op Journey’s End lê die klem duidelik op kwaliteit eerder as kwantiteit! Vier wyne word gemaak wat die plek van oorsprong duidelik weerspieël en net die beste eikehout uit Frankryk word gebruik om bykomende kompleksiteit, balans en elegansie te verleen. Nuwe wingerde is in 2008 en 2009 aangeskaf en nog sauvignon blanc, viognier, semillon en petit verdot is aangeplant.

In 2009 is ook twee nuwe wyne aan die bopunt van die mark bekend gestel, naamlik The Cape Doctor (raai waar die naam vandaan kom!) en Destination, wat die hoogtepunt van die landgoed se witwyne verteenwoordig.

Waterkloof en middagete het gewag en ek het my van Journey’s End weg geskeur! Waterkloof lê anderkant Onderkloof, my laaste besoek van die dag, en ek het die kort entjie blitsig afgelê in die turbo-aangejaagde Juke met my maag wat teen my ruggraat begin skuur het.

'n Foto is 'n duisend woorde werd! Waterkloof se kelderkompleks na donker met Valsbaai en Gordonsbaai in die agtergrond.

Wanneer jy opdraai in die grondpaadjie na Waterkloof (021-858-1292 / werner@waterkloofwines.co.za / chef@waterkloofwines.co.za) en daai verlepte lappie wingerd aan jou linkerkant sien, kan jy vergewe word as jy dink al die pragtige foto’s van Waterkloof wat jy tot dusver in wynartikels gesien het, is ‘n liegstorie. Maar dan tref jou wiele teer en begin jy na bo te kronkel. Skielik verander die natuurskoon ... en dan tref jou oë Waterkloof se kelder/proelokaal/restaurant, ‘n gebou wat met reg as ‘n argitektoniese meesterstuk beskryf kan word. Dit lyk of dit oor alles troon.

Hoe nader jy kom, hoe meer verstom sal jy wees. Uit elke hoek bied die kelder ‘n ander visuele sensasie. En die storie van Waterkloof is net so sensasioneel. In 1993 het Paul Boutinet, wie se pa ‘n Fransman was wat tydens die Tweede Wêreldoorlog van die Duitsers gevlug het, begin soek na ‘n perseel met die potensiaal om puik wyn van oorsprong te maak. Hy’t na die klassieke areas soos die Cote d’Or, Chablis, Paulliac en Barolo gekyk, maar kon niks kry nie. Toe begin hy na ‘n nuwe “klassieke” perseel soek en byna tien jaar later loop hy hom vas teen ‘n stuk grond teenaan die suidelike hange van die Schaapenberg, deel van die Hottentots Hollandberge, en besef hy: DIS DIE PLEK!

Vandag weerspieël die Waterkloof en Circumstance-wynreekse die unieke karakter en gehalte waarna sowel Boutinet as Werner Engelbrecht, die vriendelike wynmaker van Waterkloof, streef. Elegant, kompleks en met ‘n sterk aardse karakter is hoe ek hierdie twee wyne sal beskryf.

Maar dit eindig nie daar nie. Aikôna. Werner is deeglik bewus van die feit dat smaak verskil en daarom is die landgoed se Peacock Ridge- en False Bay-wyne meer uitdrukkingsvol wat vrugtekarakter betref en dus meer verteenwoordigend van die nuwe wêreldse styl van wynmaak. Die druiwe vir die False Bay-wyne kom van uitgesoekte wingerde elders.

Ek het vir Annareth en Werner in die restaurant raak geloop waar ons middagete sou geniet. Die plan was om sommer ook ‘n artikel oor die restaurant vir Planeet Wyn se Restaurant-blad te doen, maar die kos was so uitmuntend dat ek besluit het ek kan nooit vir vroulief dit ontneem nie. Nes ek is sy gaande oor goeie kos, en Waterkloof se sjef weet beslis waarvoor potte en panne daar is! Ons beplan dus om vroeg in die nuwe jaar aandete daar te gaan geniet en dan daaroor verslag te doen. Hou dus die Restaurant-blad dop!

Saam met die verskillende geregte het Werner eers ‘n heerlike Rosé laat skink, en toe het die Sauvignon Blanc, Viognier, Chenin Blanc en Merlot gevolg. En daai heerlike voggies het, saam met die watertanddisse, die hele eetervaring tot die vlak van pure dekadensie gevat! Kan steeds nie glo dat soveel mense goeie kos en wyn nie kan waardeer nie!

Links: Danie Truter in die klein verouderingskeldertjie waar Onderkloof se heerlike voggies beslag kry.

Nou-ja, my dag het einde se kant toe gestaan en ek het nog een wynkelder gehad om te besoek. So is ek toe die paar kilometer terug in die rigting van Sir Lowryspas waar Onderkloof (021-858-1538 / wine@onderkloofwines.co.za) en Danie Truter op my gewag het. Onderkloof, wat ook teen die laer hange van die Schaapenberg geleë is, is vernoem na die oorspronklike pas oor die Hottentots Hollandberge wat vandag ‘n nasionale gedenkwaardigheid is.

Danie maak vyf wyne onder die Onderkloof-handelsmerk, naamlik ‘n Sauvignon Blanc, ‘n Pinotage, ‘n Shiraz, ‘n Cabernet Sauvignon en ‘n Cabernet Sauvignon/Shiraz-versnit, en elkeen is so pretensieloos soos die man wie se goue hande hulle in die klein boetiekkelder skep. En omdat Onderkloof ‘n boettiekwynmakery is, word al die wyne in beperkte hoeveelhede gemaak.

Dis jammer, en tragies, dat Onderkloof se wyne hoofsaaklik vir die buitelandse mark bestem is want sulke lekker voggies moet baie eerder plaaslik geniet en waardeer word! Maar nou-ja, solank Suid-Afrikaners nie waardeer en geniet wat ons eie wynmakers skep nie, sal baie van ons lekkerste wyne koers kies buiteland toe. Dit laat my sommer van vooraf warm onder die kraag raak as ek dink dat na meer as 350 jaar van wyn maak, Suid-Afrika steeds geen wynkultuur het nie! Om te dink net sowat 10% van ons volwasse bevolking van 34 miljoen geniet en waardeer die wonderlike nektar van die wingerdstok. Dis ‘n skreiende skande!

Maar terug na Danie Truter en Onderkloof. Die ou stal en skuur op die plaas is in die kelder omgeskep waar Danie die drie T’s van wynmaak – Terroir, Tegnologie en Tradisie – laat saamwerk om wyne van formaat te skep. Die wingerde, wat nie besproei word nie, is sedert 1989 oor ‘n totale area van 33 hektaar heraangeplant.

Net so terloops, hier’s ook drie selfsorgkothuisies op die plaas. Om te bespreek, skakel 021-858-1538 of rig ‘n epos aan wine@onderkloofwines.co.za.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram