Top 10 in die wêreld vir Durbanville Hills Chardonnay!

Date posted:
March 21, 2012

Die Durbanville Hills Rhinofields Chardonnay van 2010 is aangewys as een van die top 10 chardonnays op die 19de jaarlikse Chardonnay du Monde in Boergondië, Frankryk.

 

Die internasionale paneel van beoordelaars het 908 wyne uit 43 lande geproe wat die beste en mees diverse wynproduserende lande in die wêreld verteenwoordig. Durbanville Hills se goue medalje-wyn deel die top posisie met wyne uit Oostenryk, Argentinië, Chile, Spanje, Italië, die Tjeggiese Republiek en Switserland.

 

Die wyn het 12 maande in houtvate deurgebring, en volgens die keldermeester, Martin Moore, was dit die rol van die vate elke twee weke wat al die verskil gemaak het en verseker het dat die wyn die aandag kry wat dit verdien.

 

“Die rol van die vate is ’n sagter proses as die konvensionele roer van die moer daarin, en deurdat die prop nie uitgehaal word nie, verminder ons die blootstelling aan suurstof en behou die wyn sy delikate aromas terwyl die houtonttrekking matig bly. Die tegniek gee die wyn ? heerlike, romerige tekstuur en verseker ’n soomlose integrasie met die hout.”

 

Hy voeg by dat die wyn ’n vars sitrusgeur in die neus vrylaat, asook geure van gedroogde appelkose gerugsteun deur seder, houtspeserye en amandels. In die mond is die wyn volrond, romerig en elegant, met sweempies lemoen. Dit pas besonder goed by romerige souse, gerookte ham, salm en Eisbein.

 

Moore sê hoewel hierdie chardonnay nou reeds puik smaak, sal die geure met verloop van tyd verder ontwikkel en in kompleksiteit toeneem. “Die tekstuur sal verder versag en die mondgevoel selfs romeriger word.”

 

Die Rhinofields-reserwereeks wyne verwys na die inheemse Kaapse renosterveld wat naby die Durbanville Hills-kelder groei. Die Durbanville Hills-plase is lid van die Biodiversiteit- en Wyninisiatief (BWI) en beskerm tans 320 hektaar van hierdie hoogs bedreigde plantegroei.

 

Die Durbanville Hills Rhinofields Chardonnay 2010 is by vooraanstaande drankwinkels en ook by die kelder beskikbaar teen sowat R95 per bottel.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram