TOKARA vier 20 jaar van wynmaak

Familiewaardes en ’n doelgerigte visie om tydlose, wêreldklaswyne te maak, is die grondslag van TOKARA, die Stellenbosse wynlandgoed wat vanjaar sy 20ste oesjaar vier.

By TOKARA word niks aan toeval oorgelaat nie. “Ons mantra was nog altyd een van geen kortpaaie en geen kompromieë nie. TOKARA streef van die heel begin af na ‘n internasionale styl met ‘n kenmerkende Suid-Afrikaanse identiteit. Uit die staanspoor was die doel om iets te skep wat as tydloos erken sal word,” aldus Karl Lambour, TOKARA se besturende direkteur.

GT en Anne-Marie Ferreira op TOKARA.

Alles het in 1994 begin toe GT en Anne-Marie Ferreira ’n plaas teen die hange van die Simonsberg gekoop het om ’n tuiste vir hul jong gesin tussen die pragtige ou eikebome te vestig. Die aantrekkingskrag van die omgewing en die insig van gesiene bure het die droom laat wortel skiet wat eindelik TOKARA sou word. Vandag, 25 jaar later, is TOKARA ’n toeristebestemming wat aan besoekers elegante, veelbekroonde wyne bied. Ander trekpleisters sluit twee restaurante, ’n kunsgalery, ’n beeldhoutuin en van die beste Suid-Afrikaanse ekstra-suiwer olyfolie in. TOKARA bly ook die tuiste vir ’n familie met ‘n visie en toewyding … en die heel belangrikste – vasbeslotenheid.

Die diepte van kennis oor die unieke terroir en wingerde versamel deur die gesoute wingerdboukundige, Aidan Morton, is ’n belangrike faktor in die landgoed se sukses.

“Vanaf die heel begin is wêreldklas die minimum standaard vir alles wat ons doen, en dit sal in die toekoms aanhou om so te wees,” sê Morton.

“Die toekoms in die kelder lyk opwindend. Met ons wingerde wat al hoe beter word, ’n styl wat reeds goed bepaal is en die gebruik, na baie proeflopies, van die mees innoverende wynmaaktegnieke in die wynwêreld, streef ons na wynperfeksie met elke wyn wat ons maak,“ volgens die wynmaker, Stuart Botha.

Vlagskipwyne 

TOKARA se twee vlagskipwyne, trotse vaandeldraers van hierdie veelbekroonde wynlandgoed.

Die eerste wyne wat onder die TOKARA-etiket bekend gestel is, die Director’s Reserve Red en Director’s Reserve White, geniet internasionale erkenning as ’n ware weerspieëling van alles waarvoor die plaas staan – verfyning, elegansie en balans.

Sedert die eerste oesjaar in 2003 het dié cabernet sauvignon-gedrewe Director’s Reserve Red in gestalte gegroei as ’n wêreldklas- Bordeaux-styl versnit met ’n rits toekennings agter sy naam.

Die jongste oesjaar wat bekend gestel is, 2016, is ’n uitsonderlike versnit van cabernet aauvignon (78%), merlot (11%), petit verdot (7%) en cabernet franc (4%) – alles afkomstig uit TOKARA se beste wingerde teen die hange van die Simonsberg. Die wyn word vir 22 maande in ’n kombinasie van nuwe en ouer Franse eikehoutvate verouder. Die resultaat is ’n wyn van ontsaglike suiwerheid wat spog met donker kersies, braambessies, ryp pruime en ’n tikkie speserye. ’n Fyn, tog ferm tannienstruktuur voorspel goeie verouderingspotensiaal wat sinoniem is met hierdie TOKARA-vlagdraer.

Sauvignon blanc is nog ’n noemenswaardige hoeksteen van TOKARA. As ‘n versnit saam met semillon staan die formidabele Director’s Reserve White, die vlagskip wat terugdateer na die 2004-oesjaar, ook trots op die wêreldverhoog.

Die pas bekend gestelde Director’s Reserve White 2017 is ’n klassieke Bordeaux-versnit van sauvignon blanc (69%) en semillon (31%) gemaak van druiwe wat op die hoogste hellings van TOKARA se Stellenbosch-plaas groei. Albei kultivars word afsonderlik verwerk en verouder in hoofsaaklik Franse eikehoutvate. Kontak met die gismoer vir nege maande verleen pragtige integrasie en tekstuur aan dié wonderlik komplekse wyn. Ryk lae van grenadella en pienk pomelo meng met sweempies sitroengras en vars gebakte brioche. Die wyn wys ongelooflike suiwerheid en diepte.

Vir meer inligting, besoek www.tokara.com.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>