Toekenning beklemtoon wyntoerisme se sterk punte

Date posted:
April 23, 2009

Die Kaapse Wynlande staan ‘n goeie kans om ’n groter deel van toerisme se jaarlikse bydrae van bykans R160 miljard tot die land se BBP in te palm, sê André Morgenthal, ’n lid van die plaaslike tak van die Great Wine Capitals Global Network, wat inskrywings vir die Best of Wine Tourism Awards, wat nou reeds die sewende jaar aangebied word, versoek.

 

Na raming skep plaaslike wyntoerisme jaarliks inkomste van sowat R6,7 miljard danksy binnelandse én buitelandse toeriste, wat hoofsaaklik van Europa kom, maar al hoe meer ook van ander wêrelddele.

 

“Dit is bemoedigend dat al hoe meer wyntoeriste van Noord-Amerika, Asië, Australasië en die Afrika-vasteland hierheen kom,” sê Morgenthal. “’n Mens kan die verskeidenheid toeriste dalk daaraan toeskryf dat wynprodusente hul ervaringsveld uitgebrei het om ’n veel breër demografie ten opsigte van ouderdom, kultuuragtergrond en inkomste in ag te neem. Dit spreek beslis uit die bestendige toename in die aantal en verskeidenheid inskrywings vir die Best of Wine Tourism Awards elke jaar, van feitlik elkeen van die wynproduserende streke in die land. Dit is ’n goeie teken vir die volgehoue goeie stand van die sektor, en sy internasionale mededingendheid.

 

“Die reputasie van die plaaslike wyntoerismebedryf, en sy klem op eko-volhoubaarheid, asook die sofistikasie van wêreldgehalte wat wynmakerye en verwante bedrywe bied, en ’n al hoe groter internasionale belangstelling in die land se uitnemende kookkuns en mediadekking vir Suid-Afrika en veral die aanloklikheid van die Kaapse wynlande, help alles om die sektor aan die gang te hou.

 

Die Best of Wine Tourism Awards sluit onder meer kategorieë vir uiteet, verblyf, argitektuur, parke en tuine, kuns en kultuur, vernuwende wyntoerisme-ervarings, en wyntoerismediens, met inbegrip van konferensies, asook volhoubare wyntoerismepraktyke in.

 

Morgenthal sê verskeie vooraanstaande beoordelaars het bevestig dat hulle in vanjaar se paneel gaan dien, onder andere die argitekte David Jack en Alex Robertson; die kosresensent en -skrywer Lannice Snyman; die wyntoerismespesialis Margi Biggs; die uitvoerende hoof van die Biodiversiteit en Wyn-inisiatief, Inge Kotzé; en die voormalige direkteur van die Iziko SA Nasionale Galery, Marilyn Martin.

 

Laai inskrywingsvorms af van die www.greatwinecapitals.com-webwerf. (http://www.greatwinecapitals.com/?1&it=m_description&LG=1&ctd=143&cop=143). Inskrywings moet op die laaste om 12h00 op Vrydag 12 Junie by Helene Oosthuizen (helene@wosa.co.za) van die Best of Wine Tourism-sekretariaat ingehandig word, of by WOSA se kantoor in Helderbergweg, Stellenbosch.

 

Die kategoriewenners sal in November tydens die algemene jaarvergadering van Great Wine Capitals in Bordeaux aangekondig word, saam met die algehele wenner. Tydens dié vergadering, wat ook die eerste dekade van die organisasie vier, vergader die Kaapse tak met sy eweknieë van Bilboa-Rioja (Spanje), Bordeaux (Frankryk), Florence (Italië), Mainz, (Duitsland), Mendoza (Argentinië), Porto (Portugal) en San Francisco-Napa (Verenigde State).

 

Vergelegen het die algehele toekenning reeds twee maal gewen, sê Morgenthal. Die Waterford-landgoed en Nederburg Wyne is ook vorige wenners.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram