Three Ships-whiskies vloei in internasionale goud!

Date posted:
August 1, 2012

Die Three Ships-whiskyvloot vier tans twee goue medaljes wat op vanjaar se International Wine and Spirits Competition (IWSC) gewen is. Three Ships se Bourbon Cask Finish en sy Premium Select 5-jaaroud het albei verseker dat hierdie trots Suid-Afrikaanse handelsmerk skouer skuur met sommige van die beste whiskies ter wêreld. Die aankondiging kom skaars twee maande nadat die Three Ships Premium Select 5-jaaroud die titel as die wêreld se beste versnit op die jaarlikse Whisky Magazine World Whisky Awards los geslaan het.

Volgens die meesterdistilleerder, Andy Watts, is dit ’n eer om goue medaljes vir twee sulke uiteenlopende whiskies te wen. Albei word by die The James Sedgwick-distilleerdery in die Bolandse dorp Wellington gemaak.

“Ons het sedert die stigting van die handelsmerk nog altyd probeer om whiskies te maak wat nie net van buitengewone gehalte is nie, maar wat ook trots op hul eie kan staan. Hierdie twee whiskies kan nie meer van mekaar verskil in terme van smaakprofiel nie, wat daarop dui dat die diversiteit wat ons hier skep ’n wenresep is.

“Die Three Ships Premium Select 5-jaaroud is ’n vernuftige versnit van uitgesoekte Suid-Afrikaanse en Skotse whiskies en kombineer swaar geturfde, gemoute gars en graan. Dis vyf jaar lank in Amerikaanse eikehout verouder. Daarteenoor gebruik die Three Ships Bourbon Cask Finish ongeturfde, gemoute gars- en graanwhiskies wat aanvanklik vir drie jaar in Amerikaanse whiskyvate verouder is en daarna nog ses maande in eerstevul- Amerikaanse whiskyvate deurgebring het vir ’n bindingsperiode.

Die Three Ships Bourban Cask Finish is Suid-Afrika se eerste ten volle versnyde whisky, met sowel die mout- as die graanwhiskies wat gedistilleer en verouder is in die The James Sedgwick-distilleerdery. Die whisky is sag, esteragtig en warm in die neus, en dit lei tot ’n heiningagtige soetigheid met vanieljegeure in die mond. Die nasmaak is talmend en toon sweempies peper en spesery. Hierteenoor is die Three Ships Premium Select 5-jaaroud robuus, aromaties en onpretensieus. ’n Volle turfagtige karakter in die mond lei tot ’n lang, warm einde.

Die Three Ships Premium Select 5-jaaroud en die Three Ships Bourbon Cask Finish is by vooraanstaande drankwinkels beskikbaar teen sowat R115 en R145 onderskeidelik.

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram