Three Ships wen wêreldtoekenning vir beste versnitwhisky

Date posted:
March 27, 2012

’n Suid-Afrikaanse whisky het vir die eerste keer die titel van die wêreld se beste versnitwhisky op die jaarlikse World Whisky Awards van Whisky Magazine gewen. Die Three Ships 5-jaar-oud het by die jaarlikse kompetisie gehou in Londen so 'n indruk op die beoordelaars gemaak dat hulle daaraan die topprys in die kategorie vir versnitwhiskies toegeken het.

Meer as 300 whiskies is “blind” geproe in drie intensiewe rondtes deur ’n onafhanklike paneel van beoordelaars wat sommige van die beste whiskykenners ter wêreld ingesluit het.

Die verheugde meesterdistilleerder van Three Ships, Andy Watts, het gesê vir die Three Ships Premium Select 5-jaar-oud om as die wêreld se beste versnitwhisky aangewys te word, is by verre die grootste prestasie nog deur enige Suid-Afrikaanse whisky.

“Ons het nog altyd geglo die whiskies wat hier gemaak word, is goed genoeg om onder die beste te tel, en die groot getal toekennings wat ons oor die laaste paar jaar ingepalm het, regverdig daardie vertroue. En nou is dit bevestig: Suid-Afrika hoef geen tree terug te staan wanneer dit kom by die maak van buitengewone whiskies nie. Dit is 'n prestasie wat 'n mens tegelykertyd nederig stem en enorme bevrediging gee.”

Die voorsitter van die beoordelingspaneel, Rob Allanson, het gesê  “daar was in die kompetisie ’n aantal whiskies wat mens se oë laat rek het en die paneel het ’n strawwe tyd gehad om die goeie van die baie goeie te skei. Die beoordelaars se streng standaarde beteken dat die wenners werklik die beste whiskies ter wêreld is.”

Die Three Ships Premium Select 5-jaar-oud is ’n kunstige versnyding van spesiale Suid-Afrikaanse en Skotse whiskies wat vir vyf jaar verouder is. Die whisky - robuust, aromaties en onpretensieus – toon ’n stewige, turfagtige karakter en eindig in ’n talmende, warm nasmaak.

Die Three Ships Premium Select 5-jaar-oud is beskikbaar by vooraanstaande drankwinkels en kos sowat R115 per bottel.

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram