Three Ships vereer beroemde seevaarders van weleer

Date posted:
October 14, 2011

Three Ships het die tweede in 'n reeks van drie gedenkweergawes van sy 10 jaar-oue enkelmoutwhisky wat onverskrokke ontdekkers met 'n verbintenis met die Kaap gedenk, bekend gestel. Hierdie betrokke weergawe roep die epiese reis van Vasco Da Gama, die eerste Europese ontdekker wat Indië bereik het, in die herinnering.

Dit volg op die eerste weergawe teen die einde verlede jaar wat die reis gedenk het van Bartolomeus Diaz wat met sy drie skepe die eerste van Europa was wat gevaar het om wat hy die Kaap van Storms sou doop.

Hierdie tweede weergawe word volgende jaar gevolg deur die laaste van die drietal en sal gewy wees aan Jan van Riebeeck wat met sy klein vloot van drie skepe op 6 April 1652 Tafelbaai binnegevaar het.

Die whisky in al drie is dieselfde – Three Ships se 10 jaar-oue enkelmoutwhisky, slegs die tweede enkelmout wat by die James Sedgewick-distilleerdery by Wellington in die Kaap gemaak word. Die aanleg is die enigste volwaardige whiskydistilleerdery in Afrika.

“Ons beskou onsself as pioniers in ons bedryf,” het die meesterdistilleerder, Andy Watts, gesê. “Ons wou ander vereer wat voor ons ook die onbekende ingewaag het. En met ons naam was dit slegs logies dat ons voorkeur sou val op diegene wat oor die oseane na nuwe wêrelde gesoek het.

“Die topgehalte-geriewe waaroor ons vandag beskik, stel ons in staat om whisky te produseer wat aan die hoogste internasionale standaarde voldoen. Hierdie enkelmout het reeds in die eerste jaar sedert sy bekendstelling goud gewen by twee voorste oorsese kompetisies – die Concours Mondial de Bruxelles en die Wine and Spirit Competition in Londen.”

Die eerste tienjaaroud-enkelmout, wat in 2003 bekend gestel is, het ook in sy eerste jaar 'n goue medalje by die International Wine and Spirit Competition gewen.

Die jongste enkelmout het die volle tien jaar in vate van verskillende ouderdomme deurgebring. Watts sê die ouerige klein vate het bygedra tot die uitsonderlike gladheid van die whisky, terwyl die Amerikaanse eikehout 'n effense soetheid daaraan verleen.

“Dit is hoofsaaklik vir die kieskeurige whiskydrinker bedoel. Dit is volrond, met 'n suggestie van feengrond, maar sonder die rokerigheid wat normaalweg daarmee geassosieer word, en dit bied 'n lang, warm afronding, met 'n goeie balans tussen hout en whisky.”

Soos in die geval van die eerste uitgawe, word slegs 8 000 bottels beskikbaar gemaak. Die distilleerdery het die eerste uitgawe binne drie maande uitverkoop, en dieselfde vraag word in die geval van die tweede verwag. Dit is in die handel teen sowat R260 per bottel beskikbaar.

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram