Thokozani: ’n Eiland van sukses in ’n see van mislukkings!

In 1995 het Suid-Afrika die rugby-wêreldbeker verower met een “anderskleurige” speler in die span, Chester Williams. Twaalf jaar later het die Bokke dit weer reg gekry, hierdie keer met 6 “anderskleurige” spelers in die groep. En in 2019 het die Springbokke die rugby-wêreldbeker vir die derde keer ingepalm, hierdie keer met 6 “anderskleurige” spelers in die eindstryd én Siya Kolisi as hul eerste swart kaptein.

Wys jou net wat vermag kan word wanneer mense hande vat en saamwerk pleks van vinger wys en afbreek. As populistiese politici en kamma-politici nou net hierdie les wil leer. Helaas!

Denise Stubbs, Besturende Direkteur van Thokozani, en jors troelie.

Dit laat my nou dink aan Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). SEB in die landboubedryf was tot dusver ’n klaaglike mislukking. Hier en daar is daar egter ’n uitsondering, soos Thokozani Staff Holdings van Diemersfontein buite Wellington. Deur hierdie projek het 65 werknemers van Diemersfontein Wine and Country Estate ’n 55%-aandeelhouding verkry in die maatskappy Diemersfontein Wines.

Dit stop egter nie daar nie,  maar is net die volgende stap in die transformasie en ontwikkeling van Thokozani, ’n bemagtingsprojek tussen die eienaars van Diemersfontein, David en Sue Sonnenberg, en hul werknemers.

Diemersfontein se proekamer waar Thokozani se wyne saam met smullekker eetgoed geniet kan word.

Vir diegene wat nie weet nie, Diemersfontein is reeds sedert die vroeë 1940s in die Sonnenberg-familie se besit toe die huidige eienaar, David Sonnenberg, se oupa, Max, die plaas van 183 hektaar aangeskaf het. Richard Sonnenberg, David se pa, het die eerste wingerde in die 1970s aangeplant en David self het die kelder in 2000 gebou en wyn begin maak. Diemersfontein vier vanjaar dus sy 21ste oesjaar.

Diemersfontein Wines se sakemodel sluit vandag eiendomsontwikkeling en gasvryheid as afsonderlike entiteite in, en Thokozani is op ’n soortgelyke model geskoei, met sy eie wynhandelsmerk en gasteverblyf. Thokozani bestuur ook die konferensiegeriewe op die landgoed.

Die drie wyne wat Thokozani tans bied.

“Mens kan nie ’n besigheid bou sonder ’n span nie,” sê Denise Stubbs, Besturende Direkteur van Thokozani, “en ons konsentreer sterk op die ontwikkeling van die personeel se kundigheid en vaardighede.

“Ons transformasiereis was nog altyd daarop gemik om ’n werklike verskil te maak in mense se lewens. Daarom is dit uiters belangrik om te fokus op opleiding en ontwikkeling om volhoubare ekonomiese bematiging vir ons mense te bewerkstellig.”

Denise is ook aangestel as sake-ontwikkelingsdirekteur van Diemersfontein Wines, ’n aanstelling wat sy as ’n “reuse-verantwoordelikheid” beskou en wat “geweldige toewyding en ’n algehele verbintenis” verg.

Maar terug na Thokozani (die Zoeloe-woord vir viering). Die wynreeks, wat in die Diemersfontein-kelder gemaak word, bestaan uit ’n Spumanté, ’n Cabernet Franc en ’n SMV (shiraz, mourvèdre, viognier). Aangesien die Spumanté uitverkoop was, het ek tydens my besoek my smaakkliere behoorlik bekend gestel aan die twee rooies.

Sluit jou proe af met ‘n smullekker vleis-en-kaasbord – en vars brood – vergesel van puik wyn. Dis die SMV wat daar so lekker pronk by die eetgoed.

Die Thokozani Cabernet Franc 2019 stel geure van donker vrugte, pruime en cassis vry in die mond, met sweempies kruie. Dit het ’n ruim mondgevoel met ferm dog elegante tanniene en ’n talmende nasmaak met titsels vinkelblom en droplekkers.

Die Thokozani SMV 2019 se geure van gerookte spek, vanielje, swart vrugte, mokka en speserye laat die mond behoorlik water en sy fluweelsagte tanniene maak van hom ’n wenner. Hy is dan ook die een wat my vergesel het na PROE se stoep vir ’n ewe genotvolle  vleis-en-kaas-bord vir middagete. Maar meer hieroor in ’n ander artikel.

Die Thokozani-wyne is uiteraard by die proelokaal op Diemersfontein beskikbaar, asook aanlyn by www.thokozani.co.za en in sekere kettingwinkelgroepe.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>