Braaivleis, rugby, sonskyn en ... lekker wyn! Oukei, daar was nie juis veel sonskyn die dag toe ek en liedjieboer Theuns Jordaan saam met die mense van Pulpit Rock daar in die Riebeek-vallei gekuier het nie, maar drie uit vier is darem nie sleg nie. Ek meen, die braaivleis en die wyn was uit die boeke uit, die Springbokke het die vorige naweek met heelwat hulp van Bo die knoop teen die Drake deurgehaak en die volgende naweek darem ook nie te veel skandes gemaak teen die manne met die knopknieë en kort rokkies nie!
Maar terug na lekker wyn, lekker kos en lekker mense, overgeset synde lekker kuier! Theuns, wat so op sy eie daartoe bygedra het dat my versameling Afrikaanse cd’s van niks tot iets respektabels gegroei het, het op ‘n winderige, nat somersdag by die wynlandgoed Pulpit Rock (022-461-2025) by eienaar Ernest Brink, die destydse wynmaker, Jaco van der Merwe, en myself aangesluit.
Om 'n bietjie skoonheid aan die verrigtinge te verleen, en die roos tussen die dorings te wees, het 'n gemeenskaplike vriendin van my en Theuns, Anelia Marais, saam gekom. Sy't al die reelings vir Theuns-man getref.
Aangesien die weer nie saamgespeel het nie, het ons besluit om die wynproe en vleisbraai in die vertrek bo-op die proelokaal te doen. Terloops, dit het einde Januarie van daai jaar ‘n restaurant geword waar jy heerlike disse met puik wyn kan kombineer terwyl jy oor die asemrowende Riebeek-vallei uitkyk tot doer waar die berge die horison groet.
Maar eers ietsie oor my gas vir die dag. Theuns Jordaan met sy diep rasperstem en besonderse sangstyl het geen bekendstelling nodig nie. Sy gewildheid spreek vanself en hy’t reeds ikoonstatus in Suid-Afrika bereik. Gaan kyk gerus na een van sy vertonings en jy verstaan hoekom.
Theuns het destyds aan ‘n nuwe album gewerk wat in Maart vrygestel is. Dit bestaan uit liedjies van die baie bekende Koos du Plessis wat onder die naam Kouewater te koop is.
Maar terug na kuier! Theuns vertel toe dat hy absoluut geen kennis van wyn het nie, dat hy nie witwyn drink nie (toemaar, hy was op die punt om te leer!), maar dat ‘n lekker rooie darem nie te versmaai is nie. En dan hou hy glo van ‘n soet rosé!?! Oukei, smaak verskil en die beste wyn is die een waarvan jy die meeste hou!
Links: Ja, daar's selfs uit die vate in die kelder geproe! Dit was sowel Theuns as Anelia se eerste vatproe en soos mens van die glimlagte kan aflei, was dit lekker!
Dis toe tyd vir die daad by die woord voeg, en met die hulp van Jaco van der Merwe het ons agt van Pulpit Rock se wyne geproe, drie Pinotages, twee Shiraze, ‘n Chenin Blanc, ‘n Chardonnay en ‘n wit versnit, Cape Tranquility White, wat uit chenin blanc (80%) en chardonnay (20%) bestaan.
Toe ek die punte na die tyd optel, besef ek Theuns het maksimum-punte aan drie wyne toegeken, en een was ‘n witte! Die 2005- en 2007- Shiraz sowel as die 2008- Chenin Blanc het hom byna sy stem laat verloor! En Theunsman hou kwansuis nie van witwyn nie!!! Nou-ja, wie’s ek nou om te stry.
Vir my het die 2007- Pinotage die meeste beïndruk, terwyl die 2006- Chardonnay en die 2008- Cape Tranquility White onder die wittes kop-aan-kop ge-eindig het.
Hierna is daar weg geval onder die braaivleis en bygeregte asof die oordeelsdag om die draai was, en elke krieseltjie kos is met heerlike Pulpit Rock-voggies afgesluk.
Maar voor ek vergeet, Pulpit Rock lê aan die voet van die Kasteelberg skuins anderkant Riebeek-Wes en kry sy naam van die rotsagtige helling, die Pulpit, agter die kelder en proelokaal. Die kelder het sy eerste druiwe in 2004 ge-oes en in Oktober van daardie jaar sy deure vir die publiek geopen. Die druiwe kom van die twee plase wat al meer as vyf dekades lank deur die Brink-familie geboer word, naamlik De Gift en Panorama.
Met die terugry huistoe het ek onwillekeuring gedink aan wat Joy Sterling in A Cultivated Life gesê het: “Kunstenaars en digters vind steeds die lewe se betekenis in ‘n glas wyn”.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast