Die jongste oesjaar van die nou bykans legendariese Theuniskraal Cape Riesling is pas vrygestel. Die 2010-oesjaar bied blommegeure in die neus en heerlike groenappel- en nartjiegeure in die mond vir ‘n fris en vars smaak.
Die Theuniskraal-landgoed, wat deur majestieuse berge van Tulbagh omring word, het ’n lang geskiedenis. Die plaas se naam kom van Theunis Bevernagie, wat in die vroeë 18de eeu in die vallei kom woon het. Dit is al van 1927 af, toe Andries Jordaan die plaas gekoop het, in die besit van die Jordaan-familie.
Die huidige Andries Jordaan, die derde geslag hier, sê sy oupa het besef Tulbagh se terroir met koue winters en warm somers bied die ideale groeitoestande vir wat vandag as Kaapse riesling bekend staan. Hy het op sy instink gereageer en daarmee ’n nuwe hoofstuk in die plaas se geskiedenis ingelui.
“In die laat jare veertig, toe die wynsmaak in Suid-Afrika maar pas na droë witwyne begin beweeg het, het my oupa sy Theuniskraal Riesling bekend gestel en een van daardie gloeiende oomblikke in Suid-Afrika se wynbougeskiedenis teweeg gebring toe sy wyn by die Commonwealth Wine Show van 1950 ’n goue medalje verower het. Danksy hierdie prestasie is die wyn baie jare lank na Londen uitgevoer, en vandag is dit steeds een van die mees gesogte rieslings in Suid-Afrika.”
Jordaan sê die druiwe vir hierdie wyn kom uit wingerde met ’n suidaansig wat tussen 1981 en 1996 geplant is. Hulle staan 240 m bo seevlak en groei in klipperige leemgrond. Die druiwe is met die hand ge-oes en die doppe is dadelik ná die pars van die sap geskei. Daarna is die sap in tenks van vlekvrye staal koud gegis.
Jordaan stel voor dat ’n mens dié verfrissende wyn op sy eie drink, of saam met slaai, vis, pluimvee en pasta, asook met sagte kaassoorte. Die 2010- Theuniskraal Cape Riesling is by vooraanstaande drankafsetpunte te kry, en die kleinhandelprys is sowat R36 per bottel.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast