the. Cabernet Franc 2015: ’n Groot wyn met ’n klein naam!

Kan Suid-Afrika ’n cabernet franc van wêreldgehalte oplewer, een wat kan kers vashou met die beste uit die Loire? Twee Suid-Afrikaanse wynmakers het ja gesê – en toe hul eie uitdaging aanvaar. Dit is die storie van the.

the. se storie begin in 2013 toe Niels Verburg van Luddite Wines in die Botrivier-wynstreek en Brian Smith van Elgin Ridge Wines in die Elgin-wynvallei oor middagete in Terroirs naby Londen se Trafalgar Square bymekaar gekom het. Soos dit die gewoonte is wanneer dié twee vriende en “bure” bymekaar kom, het die ete vroeg afgeskop en laat geëindig! Hierdie spesifieke samekoms sal egter altyd onthou word as die begin van iets heel besonders. Terwyl hulle cabernet franc uit die Loire gedrink het, het hulle met die plan vorendag gekom om ’n Suid-Afrikaanse wyn van hierdie kultivar te maak wat met die beste in die wêreld vergelyk kan word.

Die “dinamiese duo”, Niels Verburg en Brian Smith.

“Ons kan ’n veel beter wyn as hierdie een maak,” het een gesê met verwysing na die bottel Saumur Champigny wat hulle gedrink het. En so het die ontstaan van the. begin.

Dit was ’n reis wat afgeskop het met ’n interessante uitdaging. Nóg Elgin Ridge nóg Luddite het cabernet franc gehad. Niels het druiwe by ’n buurman verkry en ’n ton van die beste cabernet franc-druiwe is aangekoop vir die 2014-oesjaar van the. Cabernet Franc.

Die druiwe vir die the. Cabernet Franc 2014 is op 17 Maart 2014 teen 23,4º Balling gepluk, ontstingel en toegelaat om koud te week in ’n klein, oop gistenk vir drie dae totdat natuurlike gisting begin het. Die doppe is twee keer per dag deurgedruk om kleur en tanniene te onttrek wat ’n gebalanserde struktuur en vrugtekern tot gevolg het.

Na 16 dae op die doppe is die wyn saggies gepars en na vate gevoer waar appelmelksuurgisting plaasgevind het. Élevage (die Franse term vir die vordering van wyn tussen gisting en bottelering) het in drie Franse barriques plaas gevind – ’n kombinasie van nuwe en tweede- en derdevulvate. Voor bottelering is die drie vate versny en 10% cabernet sauvignon bygevoeg om die wyn se “ruggraat” te ondersteun.

the. se eerste oesjaar van net 900 bottels is in September 2018 bekend gestel in ’n elegante driebottel-houtverpakking. Niels en Brian het so ’n ietsie van hul eie persoonlikhede as ’n soort “bedieningsvoorstel” aangebring aangesien elke kissie van the. ’n bottel bevat met ’n etiket wat ‘DRINK’, ‘KEEP’ en ‘SHARE WITH A FRIEND’ lees.

Die 2015-oesjaar is weer eens ’n beperkte wyn en kos R5 000 per bottel.

Dis ook nie net die bottel se inhoud wat opwindend is nie! Die internasionale dekor- en leefstyl-tydskrif VISI het onlangs sy top 10 wyn-etikette van die aanlynwinkel Port2Port gekies, en the. is as die wenner aangewys. Die minimalistiese swart etiket met koper tipografie het lof van die beoordelaars ontlok vir sy weelderige en moderne voorkoms en sy skoon ontwerp wat die tonge laat gons.

Hierdie is sonder twyfel ’n wyn wat in elke ware wynversamelaar se “kelder” hoort!

Vir meer inligting oor hierdie uitsonderlike en beperkte wyn, kontak Marion Smith by marion@elginridge.com.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>