Taaibosch Crescendo: ’n Huldeblyk aan die terroir van die Helderberg!

Cabernet franc kan met reg die aspoestertjie-kultivar genoem word. Dit het lank in die skaduwee van sy meer bekende Bordeaux-broer, cabernet sauvignon, geleef, maar oor die afgelope klompie jare stadig maar seker onder daardie skaduwee uitgekruip. Vandag is dit ’n kultivar wat skouer-aan-skouer met sy meer bekende broer kan staan.

In die Helderberg-area skep hope sonlig, byna konstante lugvloei en oeroue grond bestaande uit verweerde graniet die ideale teelaarde vir cabernet franc. Altans so word ek vertel deur kenners wat baie meer van wyn weet as ek.

Schalk-Willem Joubert vertel die Crescendo-storie in die “wynproe”-gedeelte van die indrukwekkende kelder met Lorraine Oddo links.

Die bekendstelling van Taaibosch se Crescendo 2018 – ’n Bordeaux-styl versnit wat deur cabernet franc gedryf word, maar ook merlot (30%) en cabernet sauvignon (5%) bevat – vroeër vanjaar het weer eens die kollig laat val op die puik wyne wat hierdie kultivar kan voortbring. Cabernet franc het ’n ernstige speler geword en kenners meen sy goue jare lê nog voor.

Maar wie en wat is Taaibosch? Die plaas aan die voet van die Helderberg net duskant Somerset-Wes, voorheen bekend as Cordoba, is vandag in die besit van die Oddo-familie (Oddo Vins & Domaines) van Frankryk. Pascal Oddo en sy dogter, Lorraine, het ook wynbelange in Provence en Sancerre in Frankryk, Rioga in Spanje en in Sicilië. Hulle besit ook Pink Valley reg onder Taaibosch.

Na ’n tydperk van vernuwing – wat ’n indrukwekkende nuwe kelder, nuwe aanplantings en “opkikkering” van bestaande wingerde insluit – is die eerste Crescendo onder die nuwe handelsmerk bekend gestel. As jy enigiets noemenswaardig van wyn weet, sal jy Cordoba en hul vlagskip-rooiwyn Crescendo onthou. Nou-ja, Taaibosch bou onbeskaamd voort op daardie reputasie.

Die panoramiese uitsigte vanuit die hoogliggende wingerde!

Die plaas is nog net so mooi soos altyd en word gekenmerk deur steil hellings en verskillende aansigte, en natuurlik pragtige uitsigte oor Valsbaai en tot so ver as die Stellenbosse wynlande.

Maar nuwe besems vee skoon! Taaibosch se Crescendo is anders as Cordoba s’n, so word ek vertel. ’n Nuwe maestro in die kelder, Schalk-Willem Joubert, nuwe en opgekikkerde wingerde, ’n splinternuwe kelder en ’n nuwe styl lei alles tot iets nuuts – en uitsonderlik – in die bottel.

Joubert, Taaibosch se HUB en keldermeester, sê die bekendstelling van die eerste Crescendo onder die Taaibosch-etiket is die gevolg van die Oddo-familie se visie om ’n premie- en kenmerkend Suid-Afrikaanse wyn by hul portefeulje te voeg, asook sy droom om ’n rooiwyn te maak wat die heel beste van die Helderberg-streek verteenwoordig.

“Ek werk reeds meer as twee dekades lank met die Helderberg-wingerde en hul druiwe, en het dit nog altyd beskou as die beste terroir vir rooi Bordeaux-kultivars in Suid-Afrika,” sê hy. “Die geografie – met die wingerde wat teen steil hellings 380 meter bo seevlak geplant is en oor Valsbaai, Kaappunt en Tafelberg kyk – sorg vir baie meer as net asemrowende uitsigte!”

Die nuwe kelder … van buite.

Joubert voeg by dat daar twee elemente is wat Taaibosch se ligging teen die Helderberg perfek maak vir wynbou, die grond en die fisiese ligging.

En van binne.

“Die grond bestaan uit verweerde graniet, Tafelbergklip en Malmesbury-skalie met ’n stewige klei-komponent in die ondergrond, en dit word beskou as van die beste grondsamestelling vir wingerdbou wat daarop gemik is om rooiwyn met elegansie en karakter te maak.

“Dan is daar die ongelooflike ligging van die perseel. Die wingerde is tot 380 meter bo seevlak geleë en onderworpe aan konstante lugvloei uit die suidooste, suidweste en noordweste. Sonlig op die suidwestelike hellings is matig, iets soos 5 000 watts per meter per jaar, wat stadige, koel en eweredige rypword tot gevolg het.”

Op Taaibosch word daar volgens organiese begingels geboer, verduidelik Schalk. Maar dis ’n gebalanseerde benadering wat gevolg word. “Organies gaan oor die gesondheid van die grond,” sê hy. “Gesonde grond lei tot gesonde wingerdstokke en beter wyn. Dis geen bemarkingsfoefie nie, eerder ’n eenvoudige konsep: dis nie organiese wyn nie, maar puik wyn as gevolg van organiese boerderypraktyke.”

Die heel eerste Crescendo onder die Taaibosch-vaandel word reeds as ’n kultuswyn beskou ondanks die feit dat hy jou nie ’n arm òf ’n been sal kos nie – R300 vir so ’n puik wyn is beslis nie buitensporig nie – en pas gemaklik in by Suid-Afrika se beste wynaanbiedings. Net so terloops, die eerste twee oesjare van die Taaibosch Crescendo, 2018 en 2019, is in die ou kelder gemaak.

Die 2018-oesjaarwyn se komponente is in sowel vlekvrye staaltenks as beton-eiers gegis, daarna na houtvate van 225ℓ oorgepomp (’n derde nuut), na 14 maande versny en die wyn het toe nog ’n jaar in groot houtvate en beton-eiers deurgebring. Die tweede Crescendo – ’n versoeking wat Schalk duidelik nie kon weerstaan nie – bevat ’n klein gedeelte cabernet franc wat nie klein houtvate of staal gesien nie, net beton-eiers en daai groot houtvate. ’n Mens praat hier van ’n geurige, hemelse delikaatheid, soos een wynkenner dit uitgedruk het. Dieselfde vent sê ons moet ons oë oophou vir hierdie wyn wanneer dit oor ’n paar jaar bekend gestel word want dis glo iets baie spesiaal!

Die inheemse plant waarna die plaas vernoem is.

Die Taaibosch Crescendo 2018 maak ’n vars en sappige toetrede tot die mond en stel dan sy geure van bloubessies, kersies en gedroogde granaat vry met sweempies vinkel en fynbos. Daar is ook sweempies wit peper en naeltjies te bespeur. Al sy elemente werk pragtig saam om ’n elegante wyn te skep. Dis ’n wyn wat jy net kan terug sit en geniet, of jy kan sit en peins oor sy grootheid. Die keuse is joune.

Net so terloops, die plaas se naam is afgelei van die olyfgroen, inheemse struik wat oral voorkom.

Taaibosch gaan beslis ’n groot bydrae maak tot die bevordering en gewildheid van cabernet franc!

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>