Taai oes in 2010, maar puik wyne wag, sê Distell

Date posted:
May 4, 2010

Lentereën, kwaai suidoosters en onverwagse hael voor rypwording, asook ’n hittegolf van tien dae, het gesorg dat 2010 die mees arbeidsintensiewe en logisties veeleisende oesjaar van die laaste klompie jare was. So sê Erhard Wolf, Distell se hoof van druiwe- en wynvoorraad. Sy maatskappy lewer ’n derde van al die natuurlike en vonkelwyn in Suid-Afrika.

 

“Al het ons sowat 12% tot 15% minder druiwe geoes, is ons in die algemeen tevrede met die gehalte daarvan. Die alkoholvlakke vir wit- en rooiwyn is in die wingerde goed bestuur en dit sal tot verfrissende en goed gebalanseerde wyne lei. Veral wat pinotage en chardonnay betref, verwag ons uitmuntende resultate van vanjaar se oes. Die ander kultivars sal egter ook goed vaar. Die bedompige reënweer laat in die plukseisoen, met droë weer daarna, het die seldsame en baie begeerlike Botrytis cinerea­-swam laat ontwikkel. Die gevolg was druiwe met wonderlik gekonsentreerde geure waarvan ons die heerlikste edellaatoes-wyne sal kan maak.”

 

Wolf het verduidelik dat die nadelige oestoestande tot die minimum beperk is deur vroegtydige toegang tot gesofistikeerde weerinligting, navorsing en ’n groot span wingerboukundiges wat op Distell se eie plase en in noue samewerking met verskafferboere gewerk het.

 

“Ons het weerstoestande fyn dopgehou en kon dus vooruit beplan en vinnig in die wingerde optree. Distell het van die mees begaafde en ervare wingerboukundiges in sy diens, en hul vinnige besluitneming op grondvlak het gehelp om die gevare van weerverwante wingerdsiektes af te weer, en wind- en haelskade aan die druiwe voor pluktyd te minimaliseer. Sorgvuldige beplanning in die oestyd self het ook gesorg dat die druiwe in die heel beste toestand geoes word deur met sonop, snags en oor naweke te werk.

 

“Weens die geweldige variasie tydens knop- en blomvorming, asook in rypwordingstye binne die wingerde, moes ons baie meer tyd dáár bestee, maar ons was reg vir die uitdaging. Ons het ook nuwe bronne van druiwe en wyn benut om vir tekorte te vergoed. Al was die oes kleiner, sal ons ongetwyfeld aan die vraag kan voldoen.”

 

Hy het egter gesê die opbrengs van organiese wingerde, wat ’n baie klein deel van die maatskappy se produksie uitmaak, het swaar verliese gely.

 

“Dit is onmoontlik om die weer te pypkan as jy geakkrediteerde organiese wynkweek-protokolle volg. Ons wou hoegenaamd nie enigiets spuit om die druiwe te red nie. Op een van ons grootste plase is die opbrengs van die organiese wingerde sowat 80% minder.”

 

Callie van Niekerk, die keldermeester van die Distell-groep, het gesê 2010 se rooiwyne toon ’n uitnemende kleur en intense druiwesmake omdat die korrels oor die algemeen kleiner was, wat ’n uitstekende verhouding van vrugte tot doppe meegebring het.

 

“Ons kon vroeg reeds sien dat daar vanjaar uitstekende pinotage-wyne gemaak sal kan word terwyl die shiraz, cabernet en malbec ook uitmuntend behoort te wees.

 

“Wat die witwyne betref, het die chardonnay by verlede jaar se koue winter gebaat, en die wyne toon reeds baie goeie diepte aan karakter. Sauvignon blanc- en chenin blanc-wingerde wat vroeg ryp word, het ook druiwe van goeie gehalte gelewer. Gelukkig kon ons danksy toegang tot wingerde in koeler streke vergoed vir die uitgerekte hittegolf wat groot dele van die Kaapse wynlande einde Februarie, begin Maart getref het.”

 

Die oes het ’n week later as gewoonlik einde Januarie begin, maar het weens die warmer toestande in Maart ’n week vroeër geëindig.

 

“Sommige wynmakerye was teen middel Maart feitlik klaar geoes. Die edellaatoesdruiwe, wat veel later ryp word, was die uitsondering. Oestyd was dus twee weke korter as gerwoonlik, en dit het aansienlike druk op ons kelders se vermoë geplaas,” het Van Niekerk gesê.

 

Geïntegreerde gebruik van Distell se verskillende kelders het knelpunte geminimaliseer, en die oes kon gepars en tot wyn gemaak word soos die druiwe gelewer is.

 

Hy het gesê die maatskappy beskik oor die infrastruktuur om vanjaar se oes te botteleer met Suid-Afrika se nuwe volhoubaarheidseël as ’n waarborg van ekovriendelike produksie daarop.

 

Die Wyn- en Spiritualieëraad reik dié seël aan gesertifiseerde wyn uit. Dit word gerugsteun deur ’n gesofistikeerde opsporingstelsel wat die afgelope tien jaar ontwikkel is. Danksy hierdie stelsel kan die inhoud van ’n bottel na elke stap in die voorsieningskanaal nagespeur word om die integriteit van die produksie te bevestig.

 

Wolf het gesê die vooruitskouing is dat die oes in 2011 dalk ook minder as gemiddeld kan wees.

 

“’n Ontleding van die wingerdknoppies in Junie en Julie sal ons ’n akkurater beeld gee van wat ons van volgende jaar se oes kan verwag.”

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram