Swartland-wynroete vier ‘n kwarteeu van sukses

Date posted:
April 29, 2011

Die stigters van die oorspronklike Swartland-wynroete het sekerlik geen idée gehad dat die projek wat hulle ‘n kwarteeu gelede op so ‘n klein skaal aangepak het, ooit so groot en suksesvol sou word nie. Toe die roete in 1986 gestig is, was die 6 lede Winkelshoek, Allesverloren, Swartland Kelder, Darling Kelder, Riebeek Kelder en Porterville Kelder. Vandag, 25 suksesvolle jare later, is daar nie minder nie as 24 lede, wat wissel van klein garagiste-wynmakers en boetiekwynmakers tot allemintige groot koöperatiewe kelders.

‘n Nuwe borg sedert 2005, Santam Landbou, en meer onlangs ‘n nuwe naam, die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete, het bygedra om hierdie roete uit te bou tot een wat nie net plaaslik baie gewild is nie, maar ook gereeld besoekers uit die buiteland lok.

Die roete vier sy kwarteeu met die bekendstelling van sy nuwe aanlyn-wynwinkel waar ‘n verskeidenheid van die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete se bekroonde wyne aangeskaf kan word. Aflewering is op jou voorstoep, of by jou voordeur, nes jy verkies! Besoek gerus www.ecellar.co.za en plaas jou bestelling, of gaan na die roete se webblad by www.swartlandwineroute.co.za of by www.swartlandwineandolives.co.za en klik net op die skakel na die aanlyn-wynwinkel.

Dis egter nie net bekroonde wyne en olyfprodukte wat die Swartland gewild en bekend maak nie. Hierdie hartlike en verwelkomende gebied met sy uiteenlopende “geaardheid” wat wissel van die golwende heuwels van die Paardeberg in die suide tot die koel waters van die Bergrivier in die noorde is die tuiste van goue graanlande en lowergroen wingerde, wemelende skaap- en beesplase en olyfboorde, groot stroke fynbos en ‘n ryk voëllewe.

Die Swartland sluit die sjarmante dorpe Malmesbury, Piketberg, Porterville, Riebeek Kasteel en Riebeek Wes in waar jy altyd ‘n hartlike en warm ontvangs kan verwag, om nie eers te praat van gerieflike en weelderige akkommodasie en eetgoed in intieme eetplekkies wat jou smaakkliere lank na die tyd nog in ‘n beswyming sal hê nie.

Links: Heerlike kos, heerlike wyn en heerlike olywe is maar net 'n paar van die juwele wat op die Swartland Wyn- en Olyfroete ontdek kan word.

 

Van verblyf gepraat, die Swartland bied enigiets van klein en gerieflike bed-en-ontbyt-verblyf in gerieflike gastehuise tot pragtige selfhelpkothuisies en luukse-boetiekhotels, en oral kan jy die tipiese Swartlandse gasvryheid verwag. En as jy nie lus is vir ‘n intieme eetervaring in ‘n klein eetplekkie waar die eienaar in beheer is van alles nie, is daar talle koffiewinkels en groot restaurante wat gretig is om jou op ‘n gastronomiese reis te vat.

Maar dis die welige vrugteboorde, wingerde wat soos volvloermatte berghange en vele koppies bedek en die olyfboorde wat jou om byna elke hoek en draai en in vele valleie verras wat help om hierdie Mediterreense hoekie van Suid-Afrika so spesiaal te maak wat die hart van die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete is. En die streek se mense, natuurlik!

“Ons is baie gelukkig om so ‘n groot verskeidenheid te kan bied aan besoekers, nie net wat wyn en olyfprodukte betref nie, maar ook wat verblyf en kos betref,” vertel Danie Malan van Allesverloren, voorsitter van die roete, met trots. “Maar dis nie al nie. Mense praat lank na ‘n besoek nog oor die hartlikheid en gasvryheid van die Swartland, en dit laat hulle ook gereeld terug keer.

“Ons is hier geseënd met ongelooflike hulpbronne, hulpbronne soos wyn, kos en olyfprodukte van die hoogste gehalte, maar ook hulpbronne soos ons mense en ons omgewing wat nie net ideal is vir die verbouing van ons vele produkte nie, maar wat ons ook in staat te stel om aan besoekers baie aktiwiteite te kan bied.”

Die lang en warm somerdae en matige winters, tesame met die geografiese omgewing en natuurskoon, bied ‘n groot verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite. Die vele stap- en bergfietsroetes, asook 4x4-roetes, lok groot getalle mense na die Swartland, terwyl adrenalien-jokkies kan vlerksweef, valskermsweef, roei, kleiduifskiet en perdry, om maar net ‘n paar te noem.

Die Swartland is natuurlik ook bekend vir sy feeste wat alles dek van kos en wyn tot kuns en musiek, en regdeur die jaar plaasvind.

Wat natuurlik ook baie in hierdie gewilde wyn- en olyfroete se guns tel, is sy nabyheid aan Kaapstad. Dit is slegs sowat ‘n uur se ry van die Moederstad af.

Vir meer inligting, skakel (022) 487-1133 of besoek www.swartlandwineroute.co.za.

Einde

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram