Swartland Wynkelder het twee spesialitietswyne onder ‘n eksklusiewe Winemaker’s Collection-etiket bekend gestel. Die Swartland Winemaker’s Collection Barbera 2008 en 2009 en Winemake’rs Collection Viognier 2010 is deur die wynmaker, Corrien Geleijnse gemaak, en met minder as 800 bottels beskikbaar, is dit ’n ware versamelstuk.
Dis die eerste keer dat dié kelder ’n wynreeks uitbring wat fokus op meer eksotiese kultivars, asook nuwe wynstyle, en word gesien as ’n projek wat die diepte en verskeidenheid van die Swartland-streek vasvang en deur wynmakers omskep word in wyne van voortreflikheid.
Die 2010- Winemaker’s Collection Viognier (links) is ‘n volronde witwyn met ’n goue kleur en volop appel- en appelkoosgeure in die neus en mond. Hierdie goed gestruktureerde wyn het ‘n romerige mondgevoel met vrugtegeure wat sag afrond. Geniet dit nou of binne die volgende jaar om die optimale wynondervinding te ervaar.
Viognier word gereeld in premie-versnitwyne gebruik vanweë die uitstekende afrondings- en verfyningseienskappe daarvan, maar die uitstekende gehalte van die 2010-oesjaar het Corrien en Andries Blake, keldermeester by Swartland Wynkelder, laat besluit om dié topgehalte-wyn in ‘n kultivarmeesterstuk te omskep.
Viognier, oorspronklik van die Rhône-vallei in Frankryk, is uiters gewild en het bekendheid verwerf in die wêreldmark vir sy unieke kombinasie van parfuum-geure en volheid. Dis ’n wyn wat uiters goed pas by geregte uit die Ooste, soos Thai- of Suid-Indiese disse met goed balanseerde speserygeure, ryker seekos soos kreef en krap of ’n heerlike gebraaide hoender met roosmaryn.
Die 2008- Winemaker's Collection Barbera is vol en ryk met ’n diep, donker pers voorkoms. Hierdie wyn het 28 maande in klein Franse eikehoutvate deurgebring waartydens gisting en veroudering plaasgevind het. Die eindresultaat is ’n sagte wyn met donker kersie- en speseryagtige vrugtegeure in die neus wat afgerond word deur ryk, donkervrugtegeure op die tong.
Die 2009- Winemaker's Collection Barbera (regs) is ligter in styl en is vir 18 maande in klein Franse eikehoutvate verouder. Dis ’n wyn vol donker kersiegeure in die neus, asook swartbessiegeure en geure van geroosterde hout in die mond wat gekomplementeer word deur ’n sagte tannienstruktuur. Albei hierdie wyne kan nou geniet word, maar behoort oor die volgende vier na vyf jaar nog meer te ontwikkel.
Barbera, afkomstig van die Noord-Westelike dele van Italië in die Piedmont-area, is reeds sedert die 13de eeu bekend. Die kultivar se natuurlike hoë suur maak hierdie wyn ’n uiters geskikte pasmaat as dit by kos kom. Geniet dit gerus saam met gebraaide vleis en vis, ryk pastasouse en geurige winterbredies, asook pizzas.
Die wyne is beskikbaar teen R65.00 vir die Viognier, R85.00 vir die 2009- Barbera en R90.00 vir die 2008- Barbera, en slegs vanaf Swartland Wynkelder.
Vir enige navrae of bestellings, skakel gerus 022-482-1134 of stuur ‘n epos aan jeannev@swwines.co.za.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast