Wyn van gehalte wat ’n verskeidenheid geurprofiele weerspieël om verskillende behoeftes te bevredig, is elke wynmakery se doelwit. Koppel dit aan ‘n begeerte om te vernuwe en ontwikkel in soverre dit verbruikers se behoeftes betref en jy vind jou by die tydsgewrig waar Swartland Winery homself in 2011 bevind.
Wynvernuwing is ‘n voortdurende taak vir enige wynmaker aangesien marktoestande vinniger verander as wynmaak- en wingerdboukundige praktyke. Die sleutel is dus vir die wynmaker om te beplan en wyn te maak vir sowel onmiddellike as langtermynbevrediging – bevredig die “nou”-generasie terwyl jy die “stadig oor die klippe”-brigade terselfdertyd gelukkig hou.
Dis die mening van Andries Blake, keldermeester van Swartland Winery. Toegang tot meer as 3 000 hektaar van die beste wingerd in die Swartland-streek bied aan hom die geleentheid om te kies en te keur uit die verskeidenheid kultivars wat in hierdie diverse streek verbou word om die uiteenlopende behoeftes van die mark te bevredig.
Andries se meer as 16 jaar se wynmaakervaring by Swartland Winery het hom in staat gestel om die kompleksiteite van hierdie wynstreek en sy hoofsaaklik droëland-wingerde en verskeidenheid grondsoorte deeglik onder die knie te kry. Sy vorige ervaring by Rooiberg naby Robertson, waar hy sowat 5 jaar wynmaker was, het hom geleer om terroir en loofbeheer as die sleutel tot suksesvolle wynmaak te respekteer.
“Enige wynmaker wat sy sout werd is, sal sê dat goeie wyn in die wingerd begin, maar in die Swartland is dit dit absolute waarheid. G’n massering in die kelder kan die impak van Moeder Natuur in moeilike jare op die oes wegsteek nie aangesien die Swartland se weer genadeloos kan wees. Dis die rede hoekom soveel interessante en uitdrukkingsvolle wyne die afgelope 5 tot 10 jaar uit hierdie streek gekom het soos wynmakers die grille en giere van die streek onder die knie begin kry het,” voeg hy by.
Gevra na die kelder se nuwe bemarkingsveldtog, het Andries gesê: “Om in so ‘n mededingende bedryf en mark suksesvol te wees, moet wynmakerye voortdurend vernuwe, en Swartland Winery is geen uitsondering nie. Om hierdie rede het ons die MySwartland-veldtog geskep wat daarop gemik is om mense oor die kelder se wynreeks in te lig, asook oor die Swartland-streek se vele juwele, insluitende sy kultuurgeskiedenis, kos, feeste en skoue, en ander leefstyl elemente wat in oorvloed beskikbaar is.
“Swartland Winery, wat in 1948 gestig is, is onafskeidbaar deel van die Swartland-wynstreek met sy golwende heuwels en matige Mediterreense klimaat, sy interessante geskiedenis en sy vele toeriste-attraksies, en ons is trots om te wys wat ons anders as ander wynstreke maak.”
Blake sê Swartland Wynkelder betree ‘n nuwe era met die MySwartland-veldtog wat in November afskop. Deel hiervan is die herposisionering van Swartland Winery se wynreekse.
Links: Die nuwe vlagskipreeks met sy stylvolle etikette staan as die Bush Vine-reeks bekend. Hier pronk die Viognier ('n "stunner") en die Pinotage, wat met bottelveroudering baie smaakkliere aan't rieldans gaan sit.
Die kelder se drie wynreekse - die Swartland Winery-reeks wat die kern vorm, die Swartland Bushvine-reeks en die Swartland Winemaker’s Collection-reeks wat in beperkte hoeveelhede beskikbaar sal wees – sal almal deel wees van die ontwikkelende storie agter die veldtog.
“En ons is baie opgewonde want ons het die regte wyne teen die regte pryse, en ons planne vir 2012 en verder is om Swartland Winery ‘n huishoudelike by wynliefhebbers regoor Suid-Afrika en wêreldwyd te maak.”
Die Swartland Winery-reeks is gemik is op mense wat net ‘n lekker, gemaklike en bekostigbare wyn soek. “Dis wyne vir die hart en die siel,” is hoe Andries hulle beskryf. Hulle sluit in chenin blanc, chardonnay en sauvignon blanc aan die wit kant, asook ‘n blanc de noir, en rooies van tinta barocca, merlot, shiraz, pinotage en cabernet sauvignon. En dan is daar ook ‘n Bukketraube, die immergewilde Hanepoot en ‘n Vintage Port aan die soetwynkant.
Die vlagskipreeks, die Swartland Bushvine-reeks, bestaan uit houtrverouderde chenin blanc, sauvignon blanc, chardonnay, pinotage, shiraz en cabernet sauvignon. Hierdie wyne, bietjie ernstiger, is wyne wat kos verkies en dalk net ‘n bietjie meer bepeinsing, aldus Andries.
En dan gaan daar van tyd tot tyd Swartland Winemaker’s Collection-wyne wees. Hierdie innoverende enkelkultivar- of versnitwyne uit spesifieke vate of tenks wat Andries as buitengewoon beskou, sal net in beperkte hoeveelhede gemaak word en net in jare waartydens Andries op sulke uitsonderlike vate of tenks afkom. Die eerste proefnemings met viognier en barbera is in ‘n rapsie meer as ‘n maand uitverkoop by die kelder, en volgende op Andries se lys is ‘n aromatiese witwyn en ‘n buitengewone rooi versnit wat volgende jaar bekend gestel gaan word.
“Wyn is deel van ‘n lewenstyl, en nes mense van mekaar verskil, net so verskil wyne van mekaar. Ons is gelukkig om ‘n verskeidenheid wyne van gehalte te kan aanbied wat elke lewenstyl, elke geleentheid, elke beursie soos ’n handskoen pas.”
Blake het in 1996 by Swartland Winery aangesluit vanaf Rooiberg met die doel om Suid-Afrikaanse wyn van die beste gehalte te maak. Sy doel was, en is steeds, om wyne te ontwikkel wat die 350 jaar van wynmaakgeskiedenis in Suid-Afrika herdenk deur die klassieke styl van die Ou Wêreld te kombineer met ‘n kontemporêre, vruggedrewe styl uit die Nuwe Wêreld.
“Die aantrekkingskrag van Suid-Afrika lê in die boublokke wat hy gee. Dit is die groot diversiteit van ons klimaat en grondsoorte en die opwindende ontwikkelings in ons wynbedryf wat die beste van sowel die Ou as die Nuwe Wêreld van wyn bied.”
Benewens sy formele opleiding by die Elsenburg-landboukollege naby Stellenbosch, het Blake tyd deurgebring in verskeie van die wêreld se beste wynmaakstreke, insluitende Australië, Nieu-Seeland, Duitsland, Frankryk en Amerika, om meer van hierdie snelgroeiende bedryf te leer.
Gevra na sy wynmaakfilosofie, het Blake geantwoord: ”Dit is algemene kennis dat wyn in die wingerd gemaak word. Die kuns vir die wynmaker is dat hy elke jaar net een kans kry om druiwe van goeie gehalte te herken om buitengewone wyn van te maak.
“My leuse in alles wat ek doen, is eenvoudig: gee 100%!”
Swartland Winery se proelokaal is oop vanaf Maandag tot Vrydag, 08h00 tot 17h00, en Saterdae van 08h00 tot 14h00. Skakel 022 482 1134 of besoek www.swwines.co.za vir meer inligting.
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast