Lede van die Swartland Santam-wynroete het beïndruk tydens die onlangse Swartland-Jongwynskou. Die vyftien lede wat aan die 2009-Jongwynskou deelgeneem het, spog met 11 goue, 29 silwer en 50 brons medaljes. 'n Verdere 20 inskrywings is aangewys as klaswenners in hulle onderskeie kategorieë.
Babylon's Peak, 'n privaatkelder geleë aan die voet van die Paardeberg buite Malmesbury, het weer eens 'n impak gemaak met sy 2009- Mourvedre wat met die titels Groot Kampioen sowel as Kampioen Skaars Rooiwynkultivar weggestap het. Wynmaker Stephan Basson het ook die trofee vir Kampioen Droë Rooi ingepalm.
Riebeek Kelders het koning gekraai in die witwyn-afdeling en hul Chardonnay en Viognier is onderskeidelik as kampioene in die Droë Wit- en Skaars Witwynkultivarklas bekroon. Swartland Wyne se 2009- Pinotage was ‘n klaswenner en hulle Hanepoot Jerepigo is erken as die Kampioen Versterkte Wyn.
Volgens Zakkie Bester, voorsitter van die Swartland-wynskouvereniging, is hierdie vertoning 'n aanduiding van die kwaliteit van die 2009-oes.
"Dit was beslis die beste oesjaar in 'n lang tyd - veral as die volume wyn vanaf droëlandwingerde in ag geneem word. Dit word duidelik beklemtoon deur die hoeveelheid medaljes sowel as die gehalte van die wyne. Soos in die verlede wys die wenners van die kampioentrofeë dat die Swartland se Mediterreense klimaat uiters geskik is vir nuwe kultivars. Ek dink wynmakers en produsente behoort dit in ag te neem wanneer hul langtermyn beplanning doen op plase," het Bester op die toekenningseremonie gesê.
Links: Kyk, hierdie mense kan vir jou wyn maak, hoor! Die trotse pryswenners bymekaar.
Klaas de Jongh, wynmaker en bestuurder van Porterville Kelder van 1985 tot 2002, het die Swartland Santam-wynroete se Voorsitterstrofee ontvang. Hierdie trofee word jaarliks uitgeloof aan 'n persoon of instansie ter erkenning van hulle baanbrekerswerk om die Swartland-wynstreek as ‘n wynproduksie-area van gehalte te vestig.
Die Swartland Santam-wynroete is in 1986 gestig en bestaan tans uit 20 lede, wat groot wynmaatskappye, privaat wynplase, garagiste-wynmakers en wynhandelaars insluit. Die roete strek van Paardeberg in die suide tot by die Bergrivier in die noorde en sluit die pragtige Riebeekvallei en die dorpies van Malmesbury, Piketberg en Porterville in.
Vir meer inligting, besoek www.swartlandwynroete.co.za
Einde
© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy
Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast