Swartland se jongwyne bult hul spiere

Date posted:
August 15, 2011

Riebeek Kelder in die natuurskone Riebeek-vallei het vir die vierde agtereenvolgende jaar die Swartland se jongwynskou oorheers en met nie minder nie as 5 trofeë weg geloop. Darling Kelder en Babylon’s Peak het twee trofeë elk los geslaan en Swartland Kelder een.

Van die 146 wyne wat deur die 14 produsente van die Swartland-wynstreek ingeskryf is, het altesaam 115 toekennings ontvang, van wie 26 klaswenners is.

Die beoordelaars se taak is weer eens aansienlik bemoeilik deur die hoë gehalte van al die inskrywings en hulle het altesaam 9 goue, 43 silwer en 63 brons toekennings gemaak.

Riebeek Kelder het ook altesaam 11 medaljes los geslaan, waaronder 5 goues. Hulle het ook loshande die stryd om klaswenners gewen met nie minder nie as 11. Darling Kelder en Babylon’s Peak het elk vyf klaswenners opgelewer, Swartland Kelder drie en Meerhof en Porterville een elk.

Riebeek Kelder het nie net die ABSA Groot Kampioen-, die Malmesbury Toyota Kampioen Droë Witwyn- en die SAIL Kampioen Skaars Witwynkultivar-trofeë vir sy gehoute Viognier 2011 ingepalm nie, maar ook die Malmesbury Motors Kampioen Droë Rooiwyn- en die Kobus Basson Kampioen Pinotage-trofeë vir sy 2011- Pinotage.

Darling Kelders se twee trofeë was vir hul 2011- Barbera (die Citrusdal Cellars Kampioen Skaars Rooiwynkultivar) en 2011- Viognier (WPK/KAAP AGRI Kampioen Natuurlike Soetwyn), terwyl Babylon’s Peak die CJP Chemicals Chenin Blanc-trofee vir sy Chenin Blanc 2011 en die Gert Kotzé Kampioen Shiraz-trofee vir sy 2011- Shiraz ontvang het. Swartland Kelder het die SAIL Kampioen Versterkte Wyn-trofee vir hul Hanepoot Jerepiko gewen.

Die wenners van die Swartland-wynstreek se Kelderwerker en Proelokaalpersoonlikheid van die Jaar-kompetisie, wat deur Nedbank geborg word, is ook bekend gemaak. Fransiena Swarts van Swartland Kelder is die Kelderwerker van die Jaar, terwyl Johan Mostert van Nieuwedrift Wingerde naby Piketberg as die Proelokaalpersoonlikheid van die Jaar aangewys is.

“Hierdie vertoning van ons wynmakers en toewyding van ons werknemers is ‘n sterk aanduiding van sowel die gehalte van die druiwe wat vanjaar gelewer is as die wyn wat daarvan gemaak is,” sê Zakkie Bester, voorsitter van die Swartland-wynskouvereniging. “En die gehalte van die wyne wat ingeskryf is, wys weer eens dat die Swartland se Mediterreense klimaat uiters geskik is vir die maak van topgehalte wyne van sowel tradisionele as nuwe kultivars.”

Die Santam Swartland Wyn- en Olyfroete is in 1986 gestig en het in 2002 sy eerste jongwynskou aangebied. Vanjaar s’n was die tiende. Die roete strek van Paardeberg in die suide tot by die Bergrivier in die noorde en sluit die pragtige Riebeekvallei en die dorpe Malmesbury, Piketberg en Porterville in.

Vir meer inligting, skakel (022) 487-1133 of besoek www.swartlandwineroute.co.za.

Einde

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram