Swartland se David en Nadia Sadie maak opslae!

Wyn is nie ’n bestemming nie, eerder ’n wonderlike reis van ontdekking en verkenning! Dit het vir die soveelste keer vir my duidelik geword die dag toe ek kennis gemaak het met die wyne van David en Nadia Sadie van die Swartland. Dit was tydens ’n kos-en-wyngeleentheid in Paternoster.

Die twee wyne wat die dag by die langtafel-ete soveel genot verskaf het.

Nie lank daarna nie is ek weer eens met hul wyne bederf tydens ’n langtafelmakietie van Isabella Niehaus in Langebaan. Tydens dié betrokke geleentheid is twee van hul wyne, ’n Chenin Blanc en ’n Grenache, aangebied saam met smaaklike disse uit ’Bella se eie kombuis. Ek het baie van die Chenin Blanc verwag (miskien omdat ek ’n groot fan is!) … en is nie teleur gestel nie. Dit was puik op sy eie en ewe puik saam met die visgereg wat voorgesit is. En almal aan tafel het saamgestem!

Die groot verrassing was egter die Grenache. Hierdie wyn – in ’n  heerlike, elegante styl – is pure genot in die neus én mond, maar toe dit saam met ’n visgereg bedien word, het ek gewonder of iemand nie ’n fout maak nie. Wel, ek is al vantevore verkeerd bewys deur kos en wyn, en hierdie keer was dit weer so. ’n Ligte rooiwyn met vis kan ’n hemelse kombinasie wees, soos hierdie beslis was. En soos met die Chenin Blanc, het die bottels Grenache gou leeg geloop!

Omdat die handelsmerk nog effe onbekend was vir my, het ek so bietjie “navorsing” gaan doen. En toe kom ek op ’n artikel af in die gesaghebbende, internasionale wynpublikasie Decanter waarin twee van David en Nadia se wyne groot lof toegeswaai word onder die opskrif 10 top South African wines worth seeking out. Hulle is die David & Nadia Sadie Aristargos 2017 en die Elpidios 2016.

Die Aristargos 2017 is ’n wit versnit van 58% chenin blanc, 14% viognier, 13% clairette blanche, 7% semillon, 5% roussanne en 3% marsanne, en word deur Decanter beskryf as ’n ongelooflike wit versnit van een van die mees opwindende wynmakers tans in Suid-Afrika.

Die 2017-oesjaar is die agtste van hierdie versnit. David sê die wyn is ’n ware uitdrukking van hul passie vir wit versnitwyne. Hoewel die wyn op ou wingerdstokke gefokus is, is druiwe van jonger aanplantings ook gebruik. Die semillon het ’n paar dae op die doppe deurgebring. Die wyn het spontane gisting in ou Franse eikehoutvate van 300ℓ deurgemaak, insluitende appelmelksuurgisting.

Die Elpidios 2016 is ’n rooi versnit van 34% carignan, 33% syrah, 14% pinotage, 14% cinsaut en 5% Grenache. Decanter kon dit ook nie genoeg lof toeswaai nie, soos die insluiting in daai lys van 10 top South African wines worth seeking out getuig.

Druiwe uit sewe verskillende wingerde is vir hierdie wyn gebruik. Die druiwe is toegelaat om spontaan te gis in ’n oop tenk waar maksimum dopkontak vir sowat vier weke toegelaat is. Daarna is die druiwe sagkens fyn gedruk en die sap na ou Franse eikehoutvate van 300 en 2 300ℓ oorgepomp vir appelmelksuurgisting. Na 12 maande in die vate is die wyn gebottel en vir ’n verdere 18 maande verouder.

Maar wie en wat is David en Nadia Sadie? Wel, hulle is deel van die bekende Swartland Independent Producers, maak wyn uit noukeurig uitgesoekte wingerde uit verskillede dele van die Swartland en fokus op organiese, ou en droëland-bosstokwingerde wat in verskillende grondsoorte voorkom. David is die wynmaker (hy het sy graad in wingerdbou en wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf), Nadia die grond- en wingerdkenner. En hulle weet wat hulle doen!

David en Nadia Sadie, die Swartland se dinamiese duo!

Hul eerste wyn het in 2010 die lig gesien terwyl hulle albei vir ander wynprodusente gewerk het. In 2013 het David bedank en 3 jaar later het Nadia permanent by hom aangesluit op Paardebosch. Sowat die helfte van die druiwe wat hulle gebruik, kom van Paardebosch af, die res vanaf ander plase in die Swartland.

“Wyn gaan vir ons alles oor natuurlike balans, suiwerheid en varsheid,” sê David. “Ons is van mening dat hierdie eienskappe slegs ten volle uitgedruk kan word wanneer die grond en wingerde met respek behandel word.

“In die wingerd is biologiese boerderypraktyke ons doelwit, terwyl ons so natuurlik moontlik in die kelder te werk gaan. Ons glo in ’n suiwer, vars en natuurlike wynstyl waar plek en grond die werk doen met minimale invloede vanuit ’n wynmaakperspektief.

“Ons fokus is op verskillende grondsoorte, bergagtige terrein en hoofsaaklik bosstokke, en daar word so min moontlik ingemeng in die kelder.”

Hierdie dinamiese wynmaakpaartjie het drie “projekte”:

  • Die David & Nadia Sadie-reeks wat ’n Chenin Blanc, ’n Grenache en daai twee versnitte wat soveel lof in Decanter ontvang het, insluit, naamlik die Aristargos en Elpidios;
  • Die Topography-reeks wat ’n Pinotage en ’n Semillon insluit; en
  • Die Single Vineyard-reeks wat tans uit twee enkelwingerd-chenin blancs bestaan, naamlik Skaliekop en Hoë-Steen.

Vir meer inligting oor hierdie dinamiese duo en hul wyne, besoek www.davidnadia.com. En as jy nog nie een van hul wyne geniet het nie, roer jou litte!

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>