Swartland se boetiekwynmakers beslis ‘n besoek werd

Date posted:
March 8, 2011

“Wyn is vir my passie. Dis familie en vriende. Dis ‘n warm hart en ‘n gulhartige gees. Wyn is kuns. Dis kultuur. Dis die essensie van die beskawing en die kuns van die lewe.”

Hierdie gevleuelde woorde van die bekende Robert Mondavi in sy boek Harvests of Joy het onlangs aanhoudend in my ore gelui toe ek drie boetiekwynmakers in die Swartland besoek het. Die drie was Nassau op die Klipheuwelpad uit Malmesbury, Franki’s Vineyards op die pad na Hopefield net noord van Malmesbury en Nuweland op die pad na Darling.

Kyk, moenie Stellenbosch of Franschhoek se natuurskoon hier verwag nie. In hierdie geweste skuur goue graanlande en groen wingerde in die somer skouer en daarna ruil hulle kleure uit. En op ‘n metaforiese wyse ook klere! En pleks van majestieuse berge word jou oë getrakteer op golwende heuwels, sommige so groot dat hulle voorbarig genoeg is om op die naam “berg” aan te dring. Dis nie ‘n hierjy-sien-my-raak-natuurskoon nie, dis eerder ‘n natuurskoon wat jou uitnooi om rustig alles te geniet en te waardeer.

Die pragtige Marené Kemp van die Swartland Wyn- en Olyfroete was my navigator op hierdie kort besoekie. Wel, dit was veronderstel om ‘n kort besoekie te wees, maar ek het vergeet van die gulhartigheid en groothartigheid van die Swartlanders!

Ons wiele vir die dag was Honda se CR-Z 1.5 Hybrid, ‘n tweesitplek-koepee wat oral die aandag getrek het. Ek kon sweer dat selfs die skape en beeste plek-plek ophou eet het om na die kort, breë en lae buksie te staar! Lees die volledige ry-indrukke by http://planeetwyn.co.za/node/3194.

 

Links: Gawie en Bennie Lambrechts het rede om trots te wees op hul kleinskaal-wynmakery. Daai trofee spreek boekdele!

 

 

Sowat 10 km buite Malmesbury op die Klipheuwelpad lê en wag Nassau waar die Lambrechts-broers, Bennie en Gawie, boer. Hulle is die derde geslag op Nassau en hou die leisels saam met hul pa, Kobus, vas. Die plaas van sowat 650 hektaar het nie minder nie as 130 hektaar onder wingerd.

Die meeste van die druiwe word aan die Windmeul-kelder in die Agter-Paarl gelewer aangesien die eenvoudige boetiekkelder slegs 10 ton kan hanteer waarvan sowat 8 000 liter chenin blanc, sauvignon blanc, shiraz, cabernet sauvignon en merlot gemaak word, asook ‘n cabernet/merlot-versnit en ‘n jerepiko-soetwyn. Die wyne is slegs op die plaas of by uitgesoekte restaurante op Malmesbury beskikbaar. En teen pryse wat wissel van net oor die R20 tot net ander R30 per bottel, is Nassau beslis ‘n besoek werd!

Hiervandaan is ons terug deur Malmesbury en op die N7 uit tot net buite die dorp waar ons die pad na Hopefield gevat het. ‘n Paar kilometer verder wys ‘n bord jou links na Franki’s Vineyards.

 

Regs: Wat bring dan beter die kleur en geur van wyn na vore as 'n mooi meisie! En as jy twee van hulle het, kan die wyn mos net heerlik wees! Erica en Marene in die keldertjie by Franki's Vineyards.

 

 

Franki’s Vineyards is ‘n verrassing. In ‘n area wat lyk of daar net skape en volstruise kan aard, het die aanvallige Erica Joubert, ‘n organiese chemikus, nie net twee gerieflike en weelderige gastehuise geskep nie, maar ook ‘n klein wynmakery wat sowat 5 ton mourvedre, grenache en viognier vanuit 20 hektaar wingerd verwerk. Hiervan maak sy ongeveer 1 000 bottels wyn per jaar, ‘n mourvedre, ‘n grenache en ‘n mourvedre/grenache-versnit. Die plaas, wat aan Erica se vennoot, Anthony Corrin, behoort, is sowat 700 hektaar groot.

Net so terloops, Corrin is ‘n groot motor- en motorsportentoesias en daar is twee skure wat ‘n hele paar interessante wiele uit die vorige eeu huisves.

Ons laaste besoek van die dag was by Nuweland op die pad na Darling waar die Louws onder meer heerlike wit- en soetwyn maak. Hier is ook graan en ‘n stoet dorperskape op die plaas. Die plaas is sedert 1927 in die Louw-familie se besit en spog met sowel kleiagtige as gruisagtige grond wat dit gepas maak vir ‘n verskeidenheid kultivars. Al die wingerde is droëlandwingerde en bestaan uit bosstokke. Altesaam 25 van die byna 100 hektaar onder wingerd is ouer as 28 jaar.

 

Links: Op Nuweland wys Juan Louw dat jy sonder die jongste tegnologie kan wegkom as jy passie het vir wyn maak.

 

 

Omdat Nuweland steeds koel seebriese van die Atlantiese Oseaan se kant af kry (hulle is sowat 35 km van die see af), is Juan in staat om sauvignon blanc te maak wat baie smaakkliere al op hol gehad het. En ‘n gou ingee Veritas-medalje vir sy 2010-Sauvignon Blanc vertel alles! Maar Juan maak nie net sauvignon blanc om van te spog nie. Onder die Nuweland-etiket kan jy ook ‘n chenin blanc en ‘n semillon kry, asook drie windmakerige dessertwyne.

“Solank ek ‘n goeie wyn kan geniet, sal ek ‘n ryk man wees”, is die vriendelike, ruimhartige Juan se filosofie. So ‘n bek moet jam kry!

Omdat al drie boetiekwynmakers is, miskien selfs eerder garagiste-wynmakers, is daar nie proekamers of –lokale nie. Jy proe sommer in die huis of in die keldertjie self, so tussen die vate en ander toerusting wat alles ‘n baie meer intieme gevoel gee, maar ‘n besoek aan hulle is beslis die moeite werd. Dis egter belangrik dat jy vooraf ‘n afspraak maak.

Die kontaknommers is:

Nassau:                  Bennie Lambrechts – 082 788 4465

                             Gawie Lambrechts – 082 788 4460

Franki’s Vineyards:    Erica Joubert – 082 888 3702

Nuweland:               Juan Louw -078 111 7913

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram