Suid-Afrikaanse chenin blanc reik na die sterre

Die gehalte van Suid-Afrika se chenin blanc was nog nooit beter nie, sê die beoordelaars van vanjaar se Standard Bank Chenin Blanc Top Ten Challenge, en Suid-Afrika het hiermee wêreldwyd die standaard vir hierdie gewilde kultivar gestel.

“Hoewel chenin blanc ʼn florerende kategorie is, het dit nie ʼn gees van selfvoldaanheid in die hand gewerk nie,” meen James Pietersen, voorsitter van die beoordelingspaneel. “Dit het duidelik geblyk uit vanjaar se 138 inskrywings. Daar is ’n toenemende getal areas waarin chenin aangeplant word, ook ’n groter benutting van dopkontak, meer natuurlike gisting en die gebruik van ʼn groter verskeidenheid van gistings- en verouderingshouers, van amforas tot ouer en groter vate en van beton-“eiers” tot tenke.”

Ses van die wyne onder die top tien kom van Stellenbosch en omgewing, en die ander vier van Worcester, Piekenierskloof, Paarl en die Swartland.

Die wenners van die 2021- Standard Bank Chenin Blanc Top Ten Challenge is, in alfabetiese volgorde:

  • Bellingham The Bernard Series Old Vine Chenin Blanc Limited Release 2020
  • DeMorgenzon Reserve Chenin Blanc 2020
  • Guardian Peak Donkiesbaai Steen 2020
  • Ken Forrester Terre Noire Chenin Blanc 2020
  • Kleine Zalze Wines Vineyard Selection Chenin Blanc 2020
  • Kleine Zalze Wines Family Reserve Chenin Blanc 2020
  • Le Belle Rebelle Solitude Chenin Blanc 2020
  • Lievland Vineyards Old Vine Chenin Blanc 2020
  • Simonsig Wines Avec Chêne Wooded Chenin Blanc 2019
  • Stellenrust Old Bushvine Chenin Blanc 2020.

Pietersen sê die alreeds veeleisende beoordelingstandaarde is vanjaar  ʼn verdere kerf gelig deur vir die eerste keer nie-ingeskrewe bekroonde wyne as blinde maatstawwe te gebruik. “Vir ons as paneel is dit noodsaaklik dat ons die ingeskrewe wyne beoordeel binne die groter raamwerk van die beste wat in dié sektor beskikbaar is. Ek is bly om te kan sê dat selfs gemeet aan dié nie-ingeskrewe wyne, dié wat ons beoordeel het nogtans uitstekend gevaar het.

“Dit spreek van die gretigheid onder die deelnemers om voortdurend op hul pogings van die verlede te verbeter en deurlopend standaarde in die kategorie te verhoog. So, hoewel die top tien hoofsaaklik uit vorige wenners bestaan, is daar ook nuwelinge soos Guardian Peak, Le Belle Rebelle and Lievland. Dit was die patroon die laaste paar jaar, ongeag die oesjaar of wie die beoordelaars was.”

Stellenrust het reeds agt keer onder die wenners getel en DeMorgenzon sewe keer sonder onderbreking sedert 2015.

“In die breë het ons vanjaar ʼn ligter aanslag in die wynmaakstyl bespeur met minder opvallende houtveroudering en laer ressuikers. Daar was ʼn groter getal varser, jeugdige, souterige en pikante wyne, meer volgehoue en van langer duur. Dié wat ons uiteindelik gekies het, is almal wyne van verfyning, vol detail en kompleksiteit.”

Ken Forrester, mede-stigter van die Chenin Blanc-vereniging wat die krag agter die jaarlikse Top Ten Challenge is, sê dit is die plaaslike chenin blanc-produsente se voortdurende aptyt vir nuwe ontdekkings wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika die Franse wynbedryf genader het met die voorstel dat hulle saam ʼn genetiese navorsingsprojek van stapel stuur om besonderse chenin-klone wat spontaan voorkom, te identifiseer.

“Soos in Frankryk, het natuurlike mutasies met verloop van tyd hul verskyning in plaaslike wingerde gemaak. Die genomiese studie wat tans aan die gang is, is die eerste navorsingsprojek ooit oor kloon-identifikasie by chenin. Die verwagting is dat ons hierdeur waardevolle insigte sal bekom wat die beskerming van erfenisstokke betref, die opbou van chenin se aanpasbaarheid by die klimaat en die bevordering van produsente se eko-volhoubaarheid. Deel van die studie sal gewy wees aan die vestiging van ʼn stewige, wetenskaplike basis vir die benutting van verskillende klone binne dieselfde wingerd.”

Stephan van der Merwe, hoof van Standard Bank se handelsbankbedrywighede in die Wes-Kaap, het namens die borg daarop gewys dat ouer wingerde die kompetisie oorheers het. “Die meeste van die top tien-wyne is gemaak van wingerdstokke wat minstens 30 jaar oud is. Die oudste is meer as ʼn halfeeu gelede geplant. Ons weet uit die eerste fase van ʼn studie wat deur die Sakeskool van die Universiteit van Kaapstad onderneem word dat die ouderdom van die wingerd beduidend tot die gehalte en gevolglik die prys van die wyn bydra. Dit dien toenemend as aansporing vir produsente om hul erfenis te bewaar. Ons hoop dat die gesamentlike kloonstudie met Frankryk hierdie neiging ʼn verdere hupstoot sal gee.”

Die kompetisie is vanjaar vir die agtste keer gehou.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>