Suid-Afrika steeds voor met eko-volhoubaarheid

Date posted:
April 20, 2011

Die kanse is goed dat Suid-Afrika, wat wyn betref, sy globale eko-voorsprong gaan behou nadat hy verlede jaar die wêreld se eerste volhoubaarheidseël bekend gestel het om die produksie-integriteit van sy gebottelde wyn te waarborg.

 

Elke seël het ’n unieke nommer, en word deur ’n uiters gesofistikeerde nasporingstelsel gerugsteun om te verseker dat die inhoud van elke bottel in elke stadium van die voorsieningskanaal na sy bron van oorsprong teruggevoer kan word. Dié seël is steeds die enigste van sy soort op die planeet en geniet nie net die steun van die meeste van Suid-Afrika se uitvoerders van gebottelde wyn nie, maar ook van die internasionale wynhandel.

 

Volgens Su Birch, die uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WOSA), is die volhoubaarheidseël reeds aangebring op meer as 80% van die gebottelde uitvoerwyn wat as Wyn van Oorsprong gesertifiseer word.

 

Danksy die aansienlike steun van produsente en die mark, berei die land hom voor op die bekendstelling van sy nuwe volhoubaarheid-kommunikasieveldtog, wat hierdie keer verbruikers in sy visier het.

 

“Ons wil hê verbruikers moet weet dat as hulle die individuele nommer op elke volhoubaarheidseël in hul rekenaars of selfone insleutel, hulle kan vasstel van watter wingerd dit kom en watter kelderpraktyke gevolg is om die wyn te maak.”

 

Die nuwe veldtog behels ’n video in Engels en Duits, selfoon-programmatuur, asook ’n nuwe webwerf en brosjures, en is einde Maart by ProWein, die internasionale wynskou vir die handel in Duitsland, bekend gestel. Dit sal verduidelik wat volhoubaarheid behels, en wys hoe maklik en gou ’n mens enige wyn met dié seël op deur sy produksieprosesse kan volg.

 

“Ondanks die groot administratiewe verpligtinge wat produsente moet aangaan om in elke stadium van die voorsieningskanaal, van die wingerd tot die bottel, bewys van hul eko-volhoubare produksie te lewer, is Suid-Afrikaanse wynmakers sterk betrokke. Net ’n klompie maande ná die bekendstelling het 70% van die wyne wat ooreenkomstig die Wyn van Oorsprong-skema gesertifiseer is, aan die vereistes voldoen wat hulle op ’n volhoubaarheidseël geregtig gemaak het. Teen die einde van 2010 was dit 83%. Ons is dus vol vertroue dat meer as 85% van alle gesertifiseerde gebottelde wyn die seël sal toon, en dat feitlik alle gesertifiseerde wyn, of selfs almal, teen die einde van 2012 dit sal kan doen,” het Birch gesê.

 

Birch het bevestig dat alle deelnemers aan die voorsieningsketting, van kwekers tot verskaffers, produsente, verspreiders, uitvoerders en kleinhandelaars, in die naspeurstelsel opgespoor kan word.

 

“Gevolglik het Suid-Afrikaanse produsente ’n sterk mededingingsvoordeel namate al meer kopers wêreldwyd meer wil weet oor wat hulle drink. Ons nuwe veldtog toon hoe maklik dit vir verbruikers is om die nommer op elke seël te benut om die wyn na sy oorsprong terug te voer. Die prettige en vermaaklike werktuie wat ons voorsien, verduidelik stappe in eko-volhoubaarheid en lê die klem op sake soos die bestuur van skaars hulpbronne soos water, geïntegreerde plaagbeheer, ensovoorts.”

 

Die verbruikersveldtog is bekend gemaak by ’n spesiale “Groen Sone” in Suid-Afrika se paviljoen by vanjaar se ProWein-uitstalling in Düsseldorf. Die “Groen Sone” het ’n vertikale tuin, ’n grasperk en ’n gerieflike luilekkerhoekie ingesluit waar afgevaardigdes wyne met die seël op geproe het.

 

Birch het gesê die nuwe veldtog is die jongste van verskeie projekte wat tot gevolg het dat Suid-Afrika wêreldwyd erkenning kry vir sy baanbrekerswerk op die gebied van eko-verantwoordelikheid in wynproduksie. Sy volhoubare IPW-produksiebeginsels word as die mees vooruitstrewende van dié aard beskou. Danksy die innoverende Biodiversiteit & Wyn-inisiatief (BWI) word reeds meer as die oppervlakte van al die land se wingerde vir die bewaring van inheemse plantegroei opsy gesit.

 

Dit land gebruik ook ’n internasionaal geakkrediteerde berekeningstelsel wat geskep is om die vrystelling van kweekhuisgasse in die produksie van wyn te meet. Liggewigbottels wat net 350 g weeg, is goed in internasionale markte ontvang, en Suid-Afrikaanse produsente het verlede jaar die heel eerste The Drinks Business Green Awards oorheers, en het weer by vanjaar se toekennings geskitter.

 

Besoek gerus www.swsa.co.za vir meer inligting.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram