Suid-Afrika soek die heel beste jongwyne van 2018

Dis weer tyd om die kollig te laat val op die land se beste jongwyne en daarom word wynmakers uit alle dele van die Suid-Afrikaanse wynbedryf uitgenooi om hul voornemende wenwyne van die 2018-oes in te skryf vir die SA Jongwynskou. Inskrywings sluit op 27 Junie by die streekswynskouverenigings en op 6 Julie by die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskou Vereniging (SANWSV).

 

Die SA Jongwynskou bied reeds sedert 1833 aan wynmakers die geleentheid om hul verskillende wyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul eweknieë in die bedryf te toets, wat dit die oudste wynskou ter wêreld maak.

 

Volgens die produsente-organisasie Vinpro is wyndruifprodusente en wynmakers positief oor die gehalte van wyne uit die 2018-oes, ondanks uitdagende toestande wat tot een van die kleinste oeste in meer as ʼn dekade gelei het.

 

“Die 2018-seisoen was werklik uitdagend vanweë een van die ergste droogtes in 100 jaar, tesame met waterbeperkings en rypskade in sekere gebiede,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.

 

Die Jongwynskou is nou die ideale geleentheid vir alle produsente om met hulle spogwyne mee te ding om SA Kampioentrofeë in 17 klasse.

 

Die witwynklasse sluit in Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Sémillon, Ander Wit Kultivars, Droë Wit Versnitte, Effe-droë Witwyne en Edellaatoes. In die klasse vir rooiwyn word trofeë toegeken vir die beste Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, Ander Rooi Kultivars en Droë Rooi Versnitte. Beoordelaars sal ook die mees uitnemende Portwyn, Dessertwyn en Muskadel aanwys.

 

Ongeveer 2 000 wyne word elke jaar geproe om te bepaal wie die gesogte Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë sal wen. Die Generaal Smuts-trofee is die kompetisie se hoogste eerbewys en word al sedert 1952 toegeken aan die algehele kampioenwyn, terwyl die kelder met die hoogste telling vir vyf verskillende wyne die Pietman Hugo-trofee ontvang.

 

Die spesialispanele bestaan uit sewe gekwalifiseerde wynbeoordelaars per paneel, en sal van 23 – 27 Julie by die Nederburg-veilingkompleks buite die Paarl die jongwyne omvattend takseer.

 

Die nasionale wenners sal onthul word by die toekenningsgeleentheid op 25 Augustus, wat vanjaar deur Agri-Expo in die geskiedkundige Stellenbosch-stadsaal aangebied word.

 

Die SA Jongwynskou-katalogus en -inskrywingsvorm vir 2018 is beskikbaar by www.youngwineshow.co.za, of stuur ʼn e-pos na info@veritas.co.za.

 

EINDE

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>