Suid-Afrika se sauvignon blanc beïndruk met gehalte, veelsydigheid

Wêreldklas, interessant en vol uitdrukking van die spesifieke terroir! Dit is van die eienskappe wat die beoordelaars van Suid-Afrikaanse sauvignon blanc opgewonde maak.

Die beoordelaars van vanjaar se Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie was mateloos beïndruk met die gehalte, uitmuntende wynbereidingstegnieke én kompleksiteit van die verskeie oesjaarwyne en style.

“Sauvignon blanc is ʼn belangrike wynkategorie in Suid-Afrika,” sê dr Winifred Bowman, een van die beoordelaars. “Altesaam 4,4 miljoen kissies (van 6 bottels) word jaarliks op plaaslike bodem hiervan verbruik. Ons was hoogs beïndruk met die gehalte van die wyne, en veral die feit dat daar deurgaans min foutwyne was.”

Die grootste kategorie tydens vanjaar se beoordeling was van die 2021-oesjaar met ongehoute wyne. “Die 2021-oesjaar het veral goed vertoon,” sê Johann Fourie, ’n beoordelaar. “Daar was bitter min foutwyne weens beter gistingsbestuur deur wynmakers, asook al die navorsing wat die verskaffers van wynchemikalieë, gis en voedingstowwe onderneem om die beste produk aan die wynmaker te lewer.”

Die wyne vanjaar het ʼn verskeidenheid van sauvignon blanc-geure opgelewer wat Rüdger van Wyk, nog ’n beoordelaar, veral beïndruk het. “Hierdie verskille in uitdrukking maak sauvignon blanc ʼn baie interessante druifsoort om mee te werk.”

Suur was ook goed in die wyne geïntegreer, aldus Fiona McDonald, ’n ander lid van die paneel. “Die wyne vanjaar toon ʼn lieflike varsheid met goed ontwikkelde sure. Wat ons nou sien is delikate en sjarmante wyne wat meer bied as net suurlemoen- of sitrusgeure. Die wyne is eiesoortig met subtiele wenke van tropiese vrug of swartbessies/vlierblomme.”

Wat die gehoute klasse betref, was die beoordelaars dit eens dat daar voortreflike bestuur van hout was. “Die ouer gehoute wyne het beter vertoon omdat dit ʼn jaar of wat teruggehou word voordat dit by kompetisies ingeskryf word om die wyn op sy beste te laat vertoon,” sê Charles Hopkins, ’n beoordelaar.

“Suid-Afrika maak gehoute sauvignon blanc van wêreldgehalte en dit is iets waarop ons met reg kan trots wees,” voeg Bowman by.

Die Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie – wat reeds sedert 2007 aangebied word – se Top 20-finaliste word later vandeesmaand bekend gemaak. Die Top 10 word tydens ʼn toekenningsgeleentheid op Woensdag 13 Oktober 2021 aangekondig.

Sauvignon Blanc SA bevorder Suid-Afrikaanse sauvignon blanc se gehalte plaaslik en internasionaal.  Enigeen kan ʼn lid van Sauvignon Blanc SA word om die voordele van gedeelde kundigheid te geniet. Vir meer inligting of om in te teken op die Sauvignon Blanc SA-nuusbrief, besoek www.sauvignonblanc.com of skakel 021 975 4440. Word deel van gesprekke op sosiale media oor die #SauvignonBlancSATop10 en volg Sauvignon Blanc SA op Twitter as @SauvignonSA en op Facebook en Instagram as @sauvignonblancsa.

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>