Suid-Afrika se enigste en oudste ‘chateau’ herleef!

’n Chateau is ’n herehuis of die woning van ’n edelman. In Frankryk. Suid-Afrika het egter sy eie “chateau”! Hoewel mens nie in hom kan bly nie, kan jy hom gate uit geniet, per glas!

Chateau Libertas is so deel van die Suid-Afrikaanse landskap soos … wel, sonskyn, braaivleis en rugby. En om te dink hierdie heerlike versnit is reeds byna 90 jaar jonk!

Die 2019-oesjaar van hierdie cabernet sauvignon-gedrewe rooi versnit is onlangs bekend gestel … en toe haal dit sommer die top 10-lys in die Prescient Signature Red Blend Report 2021 met ’n uitstekende telling van 92 uit ’n moontlike 100 punte. Maar dis nie al nie, die Chateau Libertas 2019 is ook aangewys as die beste waarde vir geld teen ’n skamele R59 per bottel!

As mens daardie prys vergelyk met die R93 800 wat ’n bottel Chateau Libertas van 1957 op ’n veiling in September behaal het, dan is dit miskien ’n blink idee om sommer ’n paar kiste aan te skaf!

Net so terloops, die handelsmerk is ook een van die land se oudste en word sedert 1932 onophoudelik gemaak. Nie oorlog, droogte of pandemie kan hom stuit nie. En die skepper van hierdie heerlike, vriendelike en sappige versnit, dr. William Charles Winshaw, ’n mediese dokter, het geglo dit kan deel wees van ’n gesonde leefstyl. En dit moes vir hom gewerk het want hy het 92 jaar oud geword!

EINDE

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>