Suid-Afrika se beste wynterreine op Novare SA Terroir-kompetisie erken 

Die ster van die 14de jaarlikse Novare SA Terroir-wyntoekennings was die Bon Courage-landgoed buite Robertson met drie nasionale wenners, naamlik vir Colombard, Cap Classique (MCC)  en Rosé. Bon Courage het tussen nie minder nie as 328 inskrywings uitgetroon.

Die Kaapse wynlande se vele puik wynmaakterreine word by dié spog-geleentheid ten toon gestel en slegs wyne gesertifiseer as enkelwingerdwyn, landgoed-geproduseerde wyn, wyn uit ʼn wyk of ʼn distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, mag deelneem.

____________________________________________________

FOTO-ONDERSKRIF: 

Voor:  Newald Marais (Kranskop), Paul Burger (Nuy), Gielie Beukes (Doolhof) en Jacques Bruwer (Bon Courage). 

Agter: Christo Pienaar (Nuy), Ola Leepile (Novare Holdings), Philip Viljoen (Bon Courage) en Derrick Roper (Novare Holdings).

____________________________________________________

Bon Courage se wenners was Bon Courage André’s Fame Colombard 2019, Bon Courage Jacques Bruére Blanc de Blanc Cap Classique 2011 en Bon Courage Lady of the House Pinotage Rosé 2019. Verskeie ander wyne van die landgoed – geleë  in die Goedemoed-wyk van Robertson – het ook uitstekende punte behaal en dié landgoed is met die Novare-trofee vir die Top Wynlandgoed en die Novare-trofee vir die Top Terroir-produsent bekroon.

Dié drie nasionale wenners en twee ander nasionale wenners van kelders in die aangrensende Klaasvoogds-wyk – die Kranskop Tannat 2017 en Rietvallei JMB Cabernet Franc 2014 – het aan hierdie twee wynterreine in die Robertson-distrik die Novare-trofee vir die SA Terroir-kompetisie se Top-wyngebied besorg.

Vanjaar is vir die eerste keer die Novare-trofee vir die kompetisie se top wyn toegeken, en die wenner kom uit die Nuy-wyk buite Worcester. Die Nuy-wynkelder het twee nasionale wenners ingeskryf, die Nuy Mastery Cabernet Sauvignon 2016 en Nuy Wit Muskadel 2006. Dieselfde Cabernet Sauvignon van Nuy is aangewys as die top wyn uit alle inskrywings en is as sulks met die nuwe trofee besloon.

Doolhof buite Wellington het vanjaar twee nasionale wenwyne gehad, naamlik die Doolhof Riviersteen Chenin Blanc 2017 en Doolhof Signature Single Vineyard Merlot 2017. Boonop het die Riviersteen Chenin Blanc 2017 die Novare-trofee vir die beste enkelwingerdwyn ontvang.

Nog twee kelders het twee nasionale toekennings ontvang, Ormonde buite Darling en Neethlingshof buite Stellenbosch. Ormonde se twee nasionale wenners is die Ondine Grenache 2016 en die Ormonde Single Vineyard Chip of the Old Block Shiraz 2015. Neethlingshof se twee wenners is die Neethlingshof Gewürztraminer 2019 en Neethlingshof The Short Story Collection The Maria Weisser Riesling Noble Late Harvest 2017.

Die ander nasionale wenners is:

Anura Petit Verdot Reserve 2013,

Baleia Sauvignon Blanc 2019,

Bartinney Chardonnay 2017,

Boplaas Cape Vintage 2013,

Bushmanspad Estate Malbec 2017,

Creation The Art of Pinot Noir 2017,

De Krans Touriga Nacional 2017,

Flagstone Treaty Tree Reserve Sauvignon Blanc/Sémillon 2017 (wit versnit),

Ghost Corner Sémillon 2017,

Kaapzicht Skuinsberg Cinsaut 2018,

Lourensford Limited Release Viognier 2018,

Mischa Estate Roussanne 2018,

Nitida Riesling 2018,

Slanghoek Vinay Natural Sweet Vin Rosé,

The Glen Carlou Collection Red Blend 2017 en

Wildekrans Pinotage Barrel Select Reserve 2016.

Benewens die nasionale wenners en die Novare-trofeë wat toegeken word, word die beste wyne in die verskillende gebiede ook aangewys. Die volledige uitslae is beskikbaar by www.terroirwineawards.co.za.

EINDE

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>