Suid-Afrika nou die vinnigste groeiende wynkategorie in die VK

Date posted:
January 22, 2010

Mits die rand nie wesenlik versterk nie, sal Suid-Afrika se uitvoer van verpakte wyn in volume vanjaar met sowat 10% groei, sê Su Birch, die uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WOSA).

 

Sy het gereageer op onlangse kleinhandel-verkoopsyfers wat AC Nielsen vir die VK bekend gestel het. Dié land is Suid-Afrika se grootste bestemming vir wynuitvoer. Volgens die mees onlangse syfers is Suid-Afrika steeds die wynkategorie wat in die VK die vinnigste groei. Die land se markaandeel het op ? volume-grondslag van 10,4% in 2008 tot 12,3% in 2009 toegeneem.

 

Suid-Afrika is steeds in die vierde plek, maar is nou feitlik gelyk met Frankryk, wat ná Australië en die VSA in die derde plek is. Frankryk het 12,4% van die mark per volume, wat beteken dat Suid-Afrika se agterstand tot net 0,1% gekrimp het.

 

Totale supermarkverkope van Suid-Afrikaanse wyne het verlede jaar in volume met 24% gegroei, en in waarde met 23%. Volgens die jongste uitvoersyfers van SA Wine Information Systems (SAWIS), was verkope van Suid-Afrika se verpakte wyn vir die jaar na die VK 11% meer as in 2008.

 

“Die indrukwekkende toename in verkope van Suid-Afrikaanse wyn bo £5 per bottel was die bemoedigendste aspek,” het Birch gesê. “Verkope van wyn in die kategorie van £5 tot £6,99 het in waarde met 15% toegeneem en dié wat van £7 tot £9,99 kos en ’n effens kleiner deel van die mark verteenwoordig, met 27%. Verkope van wyne van £10 en meer – ook ’n kleiner deel as dié wat vir £5 verkoop – het met 43% gestyg.

 

“Om die bedryf se volhoubaarheid in die lang termyn te verseker, is dit lank reeds die doelwit van Suid-Afrikaanse produsente om van die uiterste-waardesegment weg te beweeg. Vertroue in die land se stewig gevestigde reputasie vir opwindende wyne in alle pryskategorieë kry ’n hupstoot van sulke groei, ondanks die ernstige resessie. Ons is egter steeds bekommerd oor die uitwerking van die ekonomie op winsgrense.”

 

Birch het gesê die jaar-tot-jaarverkope van FirstCape, die Suid-Afrikaanse handelsmerk met die hoogste verkope in die VK, het in 2009 met 73% in waarde en met 80% in volume toegeneem. Ander Suid-Afrikaanse handelsmerke wat besonder goed gevaar het, is onder meer Kumala, Arniston Bay, Two Oceans en KWV.

 

“Ons is vol vertroue dat die 2010 FIFA-WêreldbekerTM aansienlik meer blootstelling vir ons land en sy wyn sal meebring – nie net in die VK nie, maar wêreldwyd. Sokkergeesdriftiges gaan hul aandag in die volgende klompie maande sterk op Suid-Afrika vestig.”

 

WOSA is ook van plan om munt te slaan uit die toernooi met behulp van promosies met ’n sokkertema in van die belangrike uitvoermarkte.

 

“Geoordeel na verlede jaar se prestasie in een van die taaiste tye in die moderne ekonomiese geskiedenis, en met die hulp van die mededingingsvoordeel wat vanjaar se Wêreldbeker ons bied, glo ek ons sal die groei wat ons die laaste jare in gevestigde en sommige nuwe markte bereik het, kan volhou,” het Birch gesê.

 

Volgens haar was daar in 2009 wêreldwyd ’n toename van 7% jaar-tot-jaar in die volume van Suid-Afrikaanse verpakte wyne wat uitgevoer is. Dit vergelyk met ’n daling van 18% in die verkoop van grootmaatwyn, maar na haar mening is dit ’n positiewe ontwikkeling is.

 

“Die land móét op verkope van verpakte wyn konsentreer, en terselfdertyd handelsmerke, asook Suid-Afrika as ’n handelsmerk bou. Die daling in die verkope van grootmaatwyn in verhouding tot totale uitvoer verteenwoordig ? belangrike ontwikkeling in ons bedryf.”

 

Ander belangrike markte waar volumeverkope van Suid-Afrikaans verpakte wyn verlede jaar sterk gegroei het, is Swede (18%) en Kanada (11%). Daar was in Nederland, Duitsland en die VSA feitlik geen verandering nie. Daar was ’n daling van 5% in Denemarke, maar toenames in uitvoervolumes na Finland en Noorweë het deels daarvoor vergoed. Daar was dubbelsyfergroei in Japan, Nigerië, Angola en China.

 

Einde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

© 2024 Planet Wine | All rights reserved | Privacy Policy

Website Design by Bios Bois - Your IT Nerds of the West Coast

facebookinstagram